Ná 13 jaar bring Kudus die trofee huis toe

Die Kudus II span is met gejuig terug verwelkom in Walvisbaai na hul sege in die finaal van die Reserwe Liga teen UNAM in Windhoek.

21 November 2021 | Sports

Greg Swartz; Voorsitter; “Ons is baie trots op die manne…”

Walvisbaai • [email protected]



Die FNB Kudus II span kon daarin slaag om die Namibië Rugby Unie (NRU) se Reserwe Liga-trofee huis toe gebring.

Die span het Western Suburbs II 32 – 17 geklop in die finaal in Windhoek Saterdag, en daarmee saam N$20 000 ingepalm. Sparta Rugby Klub het ook ’n trofee huis toe gebring, deur die Eerste Divisie Liga te wen. Kudus II se kaptein Lezandro Vos het gesê dat hy nie kan beskryf hoe dit voel om die beker na die kus te bring nie. “Al wat ek kan sê is dat ons ontsettend trots is met die welslae wat ons behaal het.”

Kudus Rugby Klub se voorsitter Greg Swartz het gesê die klub en sy ondersteuners is vreeslik opgewonde met die sukses wat die span behaal het. “Ons is baie trots op die manne. Vir ons beteken dit ’n nuwe era van ’n wen-kultuur by die klub waarmee ons moet volhou. Ons moet nou net verder bou. Ons smag al so lank na sukses.” Hy het die eerste span aangemoedig en sy dank uitgespreek aan een van die raadslede, Allister Carollissen. “Ons is bewus van dit wat jy alles doen vir die span, en dra die sege ook aan jou op. Baie dankie vir al jou hardewerk.” Swartz het ook vir Tammy Roodt en Faizel-lee Tjivava van die Kudu Bokkies uitgesonder nadat hulle onlangs gekies is om deel te wees van die nasionale vroue rugbyspan.

Die beskermheer van die klub, Zane Jansen, het gesê die prestasie is vir hom ’n groot eer. “Ek sê dankie ons Hemelse Vader, die spelers vir al die opofferings wat hulle gemaak het; die gemeenskap vir die ondersteuning, bereidwilligeid om altyd daar te wees. Wel gedaan aan die bestuur van die span, Colin Stevens, Herman Grobler, Armando Calaca, en die 23 manne wat tot die dood toe baklei het vir daardie sege. Jul dapperheid maak ons opgewonde.” Jansen het uitgewys dat daar baie dinge teen die span getel het.“Vir drie weke lank was ons onseker of ons gaan speel of nie. Dit was 35°C gewees in Windhoek en ons het twee ‘water breaks’ gehad. Niks het ons egter negatief gemaak nie. Ons het besluit ons kom speel rugby om die beker te wen. En dit is die houding van ’n kampioen." Jansen het sy dank aan FNB, die span se hoofborg asook al die ander borge wat bygedra het tot die span se sukses, uitgespreek.

Casio Schoombee, een van die spelers wat 13 jaar gelede deel was van ’n Kuduspan wat ’n Liga-trofee huis toe gebring het, het sy spanmaats aangemoedig. “Ons het hulle gewys wie is Kudus en ons moet so aanhou.” Die span het die beker opgedra aan Chandler Plato en James de Koker. Albei was betrokke by die Kudus klub en het hul lewens weens Covid-19 verloor.