Matutura kry parke

Die munisipaliteit het die afgelope twee jaar verskeie parke in Swakopmund aangebring.

12 October 2021 | Local News

Steven Hailonga; Inwoner; “Dit sal my help om weer by ’n paar van my vriende uit te kom ...”

Swakopmund • [email protected]



Drie speelgronde in Matutura is Woensdag deur die burgemeester van Swakopmund, me. Louisa Kativa, ingehuldig.

Tydens die geleentheid wat by een van die speelgronde gehou is, het Kativa gesê die parke dien as ideale plek vir die skepg van positiewe herinneringe vir inwoners en kinders wat die parke gebruik.

“Parke is ’n lekker plek om te ontspan en bied gelyktydig ‘groen ruimtes’ aan beide inwoners en besoekers. Daar is baie voordele daaraan gekoppel om parke binne ’n gemeenskap te hê.”

Kativa het gesê dat parke bydra tot die algehele verfraaiing van woonbuurte en dorpe, en ook dien as ’n veilige plek vir kinders.

Sy het ’n beroep op inwoners van Matutura en omliggende gebiede gedoen om na die fasiliteite om te sien.

Steven Hailonga (13), wat die afgelope twee jaar in Matutura woon, het gesê die parke gee vir hom die kans bied om weer by vriende uit te kom.

“Destyds was hierdie plek net ’n oop veld. Kinders het hier gespeel, maar dit het net nie reg gevoel nie. Ons is dankbaar dat ons nou ’n speelgrond het.”

Hailongo het ook gevra dat die munisipaliteit ’n biblioteek vir die gemeenskap voorsien.

“Ons stap ver Mondesa of dorp toe en dit maak ons moeg. Dit is ’n lang afstand en ons het ook nie plek om te studeer nie,” het hy gesê.

Die munisipaliteit het oor die jare verskeie parke en tuine aangebring onder andere die Jetty Park, Independence Park, die Hanganeni Park en ook die Kramersdorf Park.