Makietie se musikante

Die klanke van plaaslike en internasionale sangers gaan vir ’n behoorlike en unieke Kwêla se Dorp van die Jaar-partyjie op Swakopmund sorg.

23 October 2019 | Events

Swakopmund · Iréne-Mari van der Walt

“Destination Swakopmund” het die kunstenaars wat by die KIA Makietie op 6 en 7 Desember gaan optree, aangekondig.

Dit volg ná Swakopmund vroeër vanjaar aangewys is as Kwêla se Dorp van die Jaar. As deel van die prys het die dorp ook ’n makietie gewen om die besondere prestasie te vier.

Destination Swakopmund-spanlede en lede van die Swakopmund munisipaliteit staan aan die spits van planne vir ’n fees soos min.

Die musikant, akteur en televisie persoonlikheid Emo Adams gaan verantwoordlik wees vir vermaak. Adams is die aanbieder van die immergewilde skreeusnaakse kletsprogram Jou Show Met Emo wat talle bekendes op die kleinkassie verwelkom het.

The Voice seisoen 2-finalis Fatman sal ook op die verhoog wees, met sy terugkeer na die Namibiese kus. Fatman was vroeër vanjaar te sien by die Hentiesfees waar hy die partytjiegees behoorlik hoog in die feestent laat brand het.

Namibiese kunstenaars kry ook kans om hul staal te wys met bydraes deur EES, George Longane en Joharetha Nel.

EES het bykans geen bekendstelling nodig nie. Dié Namibiese boorling woon om die helfde in sy moederland en Duitsland, waar hy die wenner was van X Factor.