Magic Discounters word gesloop

Struktuur onstabiel

05 October 2021 | Business

Poena Olivier; Eienaar; “…’n kontrakteur gaan wat oor is van die gebou heeltemal sloop.”

Walvisbaai • [email protected]



Drie maande ná ’n brand Magic Discounters in puin gelê het, bly die gebou op Walvisbaai nog steeds ’n hoop verkoolde rommel.

Die brand wat op 19 Julie omstreeks 06:30 ontstaan het en die brandweer eers teen 10:30 onder beheer kon bring, het die groothandelaar en verspreider heeltemal vernietig.

Die eienaar, Poena Olivier, het bevestig die gebou word binnekort gesloop.

“Die versekering het nie presiese bedrae genoem oor uitbetalings nie, maar ’n kontrakteur gaan wat oor is van die gebou heeltemal sloop. Luidens die versekeraar is die oorsaak van die brand moontlik weens ’n foutiewe kabel wat aan ons kasregisters gekoppel was. Dit is die enigste inligting wat ons tot dusver ontvang het.”

Skrootherwinnaars

Gedurende die afgelope maand is mense verskeie kere in die gebou betrap terwyl hulle deur die puin snuffel op soek na oorskot om ’n vinnige paar sent te maak.

Die Walvisbaai-misdaadbekampingseenheid het kinders en volwassenes wat die eiendom betree het en skroot wou verwyder, op meer as een keer gekonfronteer.

Gebrande kabels, fietsrame en metaal was van die items wat van die eiendom verwyder is om aan skrootmetaalondernemings te verkoop.

Die gebou is egter ’n groot veiligheidsrisiko en die struktuur kan enige tyd ineenstort.Daar is ook asbes tussen die puin.

Gedurende die brand moes brandbestryders planne beraam om die brand van ’n afstand af te bestry, aangesien gevaarlike chemikalieë sowel as gewere en ammunisie kon ontplof.

Ondersoeke

Dennis Basson, Walvisbaai se brandweerhoof, het gesê die brandweer het reeds die ondersoekverslae aan die forensiese afdeling oorhandig.

“Toe ons die oproep oor die brand kry, was dit in ’n gevorderde stadium, en dit het ’n gebrek aan agtergrondinligting te weeg gebring.

“Ons doen steeds patrollies en help die polisie om te verseker mense bly weg van die gebou. Die onus rus egter op die eienaar om te verseker die gebou hou nie ’n risiko in nie.”

Volgens Basson is daar onlangs gevind dat kinders koperdraad in die gebou brand.

“Ons het onmiddellik gereageer en die situasie onder beheer gebring.”

Inspekteur Ileni Shapumba, die eenheidsbevelvoerder vir gemeenskapsake in die Erongostreek, het gesê sulke situasies moet vermy word.

“Wanneer ’n gebou ’n bedreiging word, moet dit vermy word.'

Sekuriteit

Olivier het die versekering gegee ’n veiligheidswag is by die perseel geplaas.

“Ons het gedurende die nag die dienste van ’n wag bekom. Dit het nie eers by ons opgekom dat mense bedags daar sou probeer steel nie. Die mure is uiters onstabiel en baie onveilig. Daar is ook asbes en ander gesondheidsgevare.”

Hy het gesê daar word ook na ander opsies gekyk om Magic Discounters te heropen. “Dit sal lank neem voordat ons heeltemal kan herbou.”

Olivier het gesê dat hulle ongeveer 30 werknemers hul volle salarisse vir Julie betaal het.

“Daarna het ons vir hulle afleggingspakkette betaal. Dit sou nie regverdig wees om hulle in diens te hou nie, want ons het geen idee wat die toekoms inhou nie.”