Liefdadigheid ken geen perke

Mense met goeie harte

27 July 2021 | Local News

Louis Broodryk, Fearless on Four Wheels; “…hierdie land is fantasties en ons kuier lekker.”

Walvisbaai • [email protected]





Die Suid-Afrikaanse vlog-paar, Kareen en Louis Broodryk, of beter bekend as Fearless on Four Wheels, is tans op reis deur Namibië.

Hierdie is egter nie die Broodryks se eerste besoek aan die land nie, maar volgens Louis hul vierde.

Die egpaar het onlangs op Walvisbaai ’n helpende hand na ’n plaaslike sopkombuis uitgereik.

Hulle het ’n skenking van N$2 000 gemaak en verseker dat die stowe se gasbottels gevul word.

“Ons het gedink ons kan iets goeds doen terwyl ons in die land is - hierdie land is fantasties en ons kuier lekker,” het Louis gesê.

Hy het bygevoeg die uitstappie saam met TASK is beslis een van die hoogtepunte van hul Namibiese kuier.

Kareen sê die organiseerders van die TASK-sopkombuis doen uitmuntende werk en behoort trots te wees.

“Ek dink dit is ’n baie goeie idee. Daar is baie kinders wat honger ly en al die hulp nodig het wat hulle kan kry.”

Die paar het sewe jaar gelede hul eerste video op hul YouTube-kanaal vrygestel en vermaak nou eers (ná 2 jaar) kykers op ’n gereelde basis aanlyn.

Die egpaar glo die naam “Fearless on Four Wheels” het nie veel verduideliking nodig nie.

“Ek is ‘fearless’ en op vier wiele,” sê Louis wie se bene verlam is en rolstoelgebonde is.

Hy verduidelik die doel van die YouTube-kanaal is om mense te inspireer om te reis en veral mense met gestremdhede aan te moedig om hul voorbeeld te volg.

“Dit is ook ’n manier vir mense om iemand in ’n rolstoel te ontmoet en sodoende mense met gestremdhede beter te verstaan,” sê hy.

Die duo het reeds in Maart uit Suid-Afrika vertrek en sal ná hul kuier op Walvisbaai langs die immergewilde Skedelkus reis na die noorde van Namibië.

Hulle moedig Namibiërs aan om teen Covid-19 ingeënt te word.

“Ek het so gou as moontlik myself laat inent,” sê Louis wat deel was van Johnson & Johnson se entstofproewe in Suid-Afrika.