Korrupsie in die kollig

Gemeenskapslede van die kus het die “Fishrot”-skandaal en sy gevolge bespreek.

12 February 2020 | Local News

Jade McClune;Gemeenskapswerker; “Namibië het geld in die Fishrot-sage verloor.”

Swakopmund • [email protected]

Lede van die publiek het verlede Vrydagaand (7 Februarie) in die Tamariskia gemeenskapsaal op Swakopmund vergader om die Fishrot-skandaal te bespreek.

“Namibië het geld in die Fishrot-sage verloor. Dit is geld wat kon gebruik word om mediese voorraad te koop of om ons onderwysstelsel te verbeter,” het Jade McClune, ’n gemeenskapswerker gesê.

McClune het deelnemers breedvoerig ingelig oor die Fishrot-skandaal asook verwikkelinge tot op hede.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die vonnis wat Angrimur Brynjolfsson opgelê is. Brynjolfsson is die kaptein van die Heinaste, ’n skip wat aan Samherji gekoppel word en wat in ’n verbode area vis gevang het.

McClune meen die straf wat Brynjolfsson opgelê is, nie swaar genoeg was nie, aangesien hy die N$950 000 boete onmiddellik kon betaal.

Knowledge Ipinge, ’n streeksraadslid vir Walvisbaai, het ook verslag gegee aangaande die werksverliese wat die Fishrot-skandaal vir die vissery bedryf meegebring het.

“Ons het lang gesprekke gevoer en het tot die gevolgtrekking gekom dat ons met die verkeerde persoon gesels. Dus het ons twee weke kans gegee dat die regte persone (wat Samherji-verteenwoordigers insluit) na Namibië toe te laat kom sodat ons die kwessie kan bespreek en oplossings kan vind,” het Ipinge gesê.

Die publiek is ook ’n spreekbeurt gegee en het hulle hul kommer oor werksverliese weens die Fishrot-skandaal en korrupsie geopper.

“Die vissermanne moet vergoeding kry. Ons moet druk op die regering plaas oor hierdie saak. [Bernhard] Esau en die ander is die regering se verantwoordelikheid en dus is hierdie die regering se gemors wat hulle moet regmaak,” het Vati Phil, ’n lid van die gemeenskap gesê.