‘Kaptein Carlo Gordon, ons held’

Die amptelike ondersoek na die sinking van die Resplendent is afgehandel, maar die verslag is nog nie beskikbaar nie.

15 February 2021 | People

Jacoline Gordon, Vrou, “...iemand wat goedhartig, medelydend, liefdevol was, 'n man met 'n soliede hart van goud...”

'n Jaar gelede is Walvisbaai se inwoners tot stilstand geruk toe dit op 18 Februarie bekend geword het dat die Resplendent, onder die stuur van kaptein Carlo Gordon, gesink het.
Gordon word as 'n held beskou nadat hy al die bemanningslede aan boord gered en hy glo saam met die skip gesink het.
As ons terugkyk op die gebeure het die MFV Resplendent op 17 Februarie 2020 omstreeks 19:00 vanaf Walvisbaai gevaar met 27 bemanningslede aan boord en kaptein Carlo Gordon aan die stuur.
Die MFV Resplendent word deur Hangana Seafood, 'n filiaal van die Ohlthaver & List (O&L)-groep, besit en volgens 'n tydlyn wat deur die maatskappy opgestel is, het die vaartuig op 18 Februarie 2020 om 07:00 die visgebied bereik en begin visvang.
Die kaptein het omstreeks 12:30 inligting van die bemanning ontvang dat die vaartuig besig is om te oorstroom.
Die kaptein het dadelik noodmaatreëls getref en alle visvang is gestaak.
Kaptein Gordon het omstreeks 12:45 vir Jerome van Wyk van die MFV Fisher Bank om hulp gevra.
Die Resplendent stuur omstreeks 13:00 'n noodboodskap en kaptein Gordon gee opdrag aan die bemanning om noodmaatreëls te tref om die skip te verlaat.
Die bemanning het die reddingsbote ontplooi en reddingsbaadjies aangetrek. Die MFV Fisher Bank was die eerste skip op die toneel en het dadelik die bemanning begin red.
Die tweede skip, MFV Victory van Seaworks, het by die redding betrokke geraak en 17 bemanningslede uit die water gelig.
Na 'n kaptelling deur die kapteins van die reddingsvaartuie (kaptein Jerome van Wyk en kaptein Hanavi van MFV Victory) is altesaam 26 bemanningslede gered, wat kaptein Gordon as vermis gelaat het. Albei skepe het onmiddellik na hom begin soek.
'n Aantal ander vaartuie het op die toneel aangekom om aan die soektog deel te neem.
Hulle was die Victory from Seaworks, Equino's van Cadilu, Wiron V Itingwege van Pereira, Muxia van Merlus, MFV Begonia van Hangana, asook die patrollievaartuig Anna.
Die bemanningslede het op 19 Februarie omstreeks 06:30 by die Hangana Jetty sonder hul kaptein aan wal gegaan.
'n Uitgebreide soektog per boot en helikopter is deur die maatskappy van stapel gestuur om die vermiste kaptein te soek.
Ná baie konsultasies is tot die gevolgtrekking gekom daar is geen redelike vooruitsig om die vermiste kaptein lewend te vind of sy liggaam uit die wrak te haal nie.
Die finale ondersoek na die sinking is blykbaar afgehandel, maar pogings om die verslag in die hande te kry, was nutteloos.

GESINSMAN
Gordon het sy vrou, Jacoline en twee kinders Duran en Carlin, agtergelaat.
Jacoline sê die dag toe sy haar man verloor het, het sy haarself ook verloor.
“Ek het myself weer probeer vind, maar dit is moeilik. Hy was so 'n groot deel van ons lewens en dit is pynlik om hom nie hier te hê nie.
Maar een ding weet ek verseker dat God 'n spesiale sielsgenoot vir my gemaak het, iemand wat goedhartig, medelydend, liefdevol was, 'n man met 'n soliede hart van goud.
Hy was iemand met wie ek kon praat, iemand saam met wie ek kon lag totdat die trane oor my gesig gestroom het.
“Die volgende keer as ons by die hemel se deur ontmoet, as ek jou daar sien staan, sal ek nie meer huil nie.”
“Ek sal my arms om jou slaan en jou glimlaggende gesig soen, en dan val die stukke van my gebroke hart weer op hul plek. ”
Sy seun, Duran, het gesê hy wens dat hy net nog vyf minute saam met sy pa kon deurbring.
“Ek sou vir hom sê hy is die beste. Die laaste keer wat ek met hom gepraat het, wens ek ek het geweet – om vir hom te sê ek is lief vir hom. Ek sou vir hom sê ek mis hom meer as wat hy ooit sal weet.”
Sy dogter, Carlin, sê hoewel sy hartseer is en hy nie meer hier is nie, lei sy invloed haar steeds.
“Ek voel Pa nog steeds naby. Wat ons gedeel het, sal nooit sterf nie; dit leef in my hart, dit bring krag en vertroosting, terwyl ons uitmekaar is.”

SEER
Sy uitgebreide familie, wat ouers, broers en susters en neefs insluit, sê hy sal altyd as die seun, broer, oom en vriend vir baie onthou word.
“Hy het 'n hart vir ander gehad, ongeag jou agtergrond, wie jy was of waar jy vandaan kom. Hy het die neiging gehad om ander altyd eerste te stel.”
“Die leegheid waarmee ons as ouers te doen het, is 'n pyn wat ons niemand toewens nie. Hulle sê geen ouer mag ooit 'n kind begrawe nie, maar wat kan ons as ouers sê?”
“Ons het nie eens die geleentheid gehad om hom 'n behoorlike begrafnis te gee nie. Hy is net van ons weggeneem, op die onverklaarbaarste manier moontlik.”
“Op 18 Februarie sal dit een jaar wees dat hy nie meer by ons sal wees nie. Dit voel nog soos gister. Ek weet ons moet vrede maak met die feit dat ons hom nie weer sal sien nie, maar hoe kan ons dit doen?”
“Ons kan steeds nie afsluiting kry ná al die maande nie. Almal het aanbeweeg en ons hoop en bid steeds tot God dat ons die antwoorde op al ons vrae sal vind.”
Sy ouers sê dat hul harte nog seer en rou is asof alles gister gebeur het.
“’n Jaar het verbygegaan en daar is geen antwoord nie. Niks wat ons sê of doen gaan ons seun terugbring nie. Ons blameer niemand nie, maar ons het nie afsluiting gekry nie.”
“Ons moes aanvaar hy kom nooit weer terug nie. Almal het vergeet watse held hy was en as ouers moes ons elke dag en elke 18de van elke maand die seer erger ervaar.”
“As sy Ma is ek dankbaar vir die Here dat hy vir ons so ‘n goeie kind gegee het. Hy het ‘n goeie hart gehad en ‘n plek in sy hart vir elke liewe mens; of hy die persoon geken het, of nie het hy almal altyd bemoedig.”