Inwoners by sorgeenheid is nog Covid-vry

Streng voorsorgmaatreëls

13 July 2021 | Local News

Berrie Holtzhausen; Uitvoerende hoof; “Ongelukkig moes ons dit doen, omdat ons familielede verswakte immuniteitstelsels het.”

Swakopmund • [email protected]





Nog geen Covid-19-positiewe gevalle is onder inwoners van die Alzheimers Dementia Care Farm buite Swakopmund aangeteken nie.

Dit is die stand van sake byna ’n jaar en ’n half nadat die regering die eerste noodtoestand afgekondig het in reaksie op die uitbreking van Covid-19 in die land.

Berrie Holtzhausen, die uitvoerende hoof van Alzheimers Dementia Namibia (ADN), sê daar was wel twee personeellede wat positief vir Covid getoets het.

“Hulle is in isolasie geplaas nog voor hulle die virus aan inwoners kon oordra. Toe die president die aankondiging maak, het ons onmiddellik besoekers se toegang beperk. Ons was in die verlede 24 uur oop vir ons ‘familie’ se besoekers, maar ons het besoekure beperk en besoekers moes afsprake maak,” het hy gesê.

Besoekers moet streng maatreëls volg tydens besoeke aan die perseel wat 21 mense met verskillende tipes demensie huisves.

“Almal word by ontvangs ontmoet en daar word monsters geneem en koors getoets. Dit was ’n moeilike tyd want van die mense was kwaad. Ongelukkig moet ons dit doen, omdat ons familielede verswakte immuniteitstelsels het,” sê Holtzhausen.

Daar is 20 personeellede werksaam by die ADN se versorgingsplaas sowel as die uitvoerende hoof, sy adjunk, ’n tweedejaar-verpleegstudent by die Universiteit van Namibië (Unam) se Rundu-kampus wat ook ’n vrywilligersprogram vir bewusmaking in skole dryf en vier vrywillige verpleegstudente.

ADN het vinnig werk daarvan gemaak om ’n stoorplek op die perseel in individuele kamers vir personeel te omskep.

Dit het verseker siek personeellede kon isoleer indien hulle positief vir Covid-19 sou toets.

“Dit help baie dat ons personeel by ons bly. Van hulle het natuurlik al verlof geneem en het met hul terugkeer ’n Covid-19-toets laat doen en in hul kamers gebly tot hulle negatiewe uitslae ontvang het,” het Holtzhausen gesê.