Humeurige sokkerspeler verban

‘n Speler en toeskouer het koppe gestam by 2019 Xmas Cup-finaal

13 January 2020 | Sports

Sten Gebhardt; SFC-klubbestuurder; “Dit is baie hartseer . . .”

Swakopmund • [email protected]


Voorvalle van geweld in sport is ’n werklikheid en kan aangevuur word deur ‘n mengsel van adrenalien, ego’s en persoonlike vetes.

Die Swakopmund Sokkerklub (SFC) is sedert 1956 gasheer vir die jaarlikse Kersfeestoernooi wat as die Xmas Cup bekend staan. Die toernooi is oor 63 jaar gevestig as ’n vreedsame byeenkoms vir sosiale en ligaspanne en bied ‘n kans op voorbereiding vir die volgende seisoen.

Tydens 2019 se Xmas Cup is die tradisie versuur toe ’n speler en ’n toeskouer op die veld met mekaar slaags geraak het. Die kwessie is op die veld deur skeidsregters hanteer. Beide betrokkenes het mekaar egter weer later gepak – iets wat die organiseerders nie kon voorspel nie.

“Ek dink dit is hartseer om te sien dat ons as mense en as ’n land steeds sulke roekelose woede saam met ons dra. Hierdie was die ergste insident nóg,” het SFC se tegniese direkteur, Gerald Güther, oor die voorval gesê.

Die rusie het gelei tot die uitstel van die prysuitdeling vir die sosiale kategorie van die toernooi.

’n Speler van Chillas FC het ’n woede-uitbarsting gehad tydens ’n wedstryd op 29 Desember, die laaste dag van die vierdagtoernooi. ’n Woordewisseling het tydens ’n strafskop tussen die speler en ’n toeskouer ontstaan, waarna die speler die toeskouer bygedam het. Ná die strafskop het hy weer na die toeskouer gehardloop en hom verder toegetakel.

SFC het ’n ondersoek na die voorval gelas en besluit om streng teen die speler en sy span op te tree. Die klub sê hy weier om gedrag van hierdie aard te duld.

Die span het hul eerste plek in die toernooi verbeur. Die speler is lewenslank verbied om SFC se gronde te betree.

“SFC is ’n klub met sterk waardes omdat ons ’n familiegerigte klub is. Die klub is verantwoordelik vir die veiligheid van spelers en toeskouers,” het SFC in ’n nuusvrystelling gesê.

Klubbestuurder Sten Gebhardt het gesê sulke insidente vind gereeld wêreldwyd in sport plaas. “Dit is ’n voorval wat in die hitte van ’n oomblik plaasgevind het en dit is hartseer dat ons sulke drastiese stappe moet neem oor iets wat die speler in ’n oomblik van waansin gedoen het.”

Güther, wat self tydens die Xmas Cup ’n rooikaart ontvang het, het beklemtoon hierdie was nie ’n geïsoleerde voorval nie.

“Daar is baie soortgelyke insidente hier by SFC waar ons moet ingryp en keer. Dit is iets wat reg oor die wêreld op elke vlak en alle ouderdomme van sport gebeur.”

Güther is van die veld gestuur vir onaanvaarbare taalgebruik.

“Die eerste ding wat ek gedink het toe die skeidsregter my die rooikaart wys, was ‘jou idioot’. Ek kan nie glo ek het oor iets so eenvoudig myself in die moeilikheid laat beland nie.”

Hy het gesê hy was teleurgesteld in homself omdat hy in daardie oomblik nie ’n voorbeeld was nie. “As spelers word ons aanhoudend deur keuses gekonfronteer en ons moet in hierdie oomblikke die regte besluit maak.”

Liga-afdeling

Die ligaspanne het nie toegelaat dat die voorval die toernooi bederf nie en Java Java het die eerste plek, trofee en N$15 000 ingepalm.

Windhoek se Falcons was tweede en het N$7 500 gewen.

“Vanjaar se finaal was ’n stryd tussen twee jong spanne met heelwat talentvolle sokkerspelers,” het Güther tydens die prysuitdeling gesê.

Amatuks het met hul derde plek N$3 000 gewen en Teenagers Football Club se tweede span is N$1 500 ryker te danke aan hul vierde plek.

Güther het borge bedank en gesê ondanks uitdagings is SFC opgewonde om weer volgende jaar die Xmas Cup aan te bied.

“Dit is nie maklik om vir vier dae lank in ’n toernooi te speel nie, maar ons waardeer opreg die spelers se toewyding en ons hoop om weer in 2020 hul toewyding te geniet,” het Güther gesê.

SFC is ewe opgewonde oor “futsal” (binneshuise sokker) en strandsokker wat in die komende maande by hul repertoire insluit gaan word.