Hotel vir middedorp beplan

Modern, gesofistikeerd

05 November 2019 | Business

Walvisbaai • Otis Finck



Die bestuurskomitee van Walvisbaai se munisipale raad het toestemming verleen vir die verkoop van twee erwe in die middedorp vir die bou van 'n spoghotel.

Dié munisipale erwe is tussen Sam Nujomalaan en Sesdestraat geleë en word tans as openbare parkeerareas gebruik.

Steward Planning het namens Neptune Property Developments aansoek gedoen om erwe 3071 en 3076 vir die ontwikkeling van 'n parkeerarea vir 'n beplande hotel aan te koop. Die aansoeker besit reeds die twee aangrensende, asook privaat erwe (3072 en 3075) waarop die hotel teen tussen N$200 miljoen en N$300 miljoen opgerig gaan word.

Die ontwikkelaars wil saamwerk met inter­nasionale organisasies om die plaaslike ekonomie te verbeter deur middel van vaardigheidsontwikkeling by 'n hotelskool.

Die hotel sal 120 kamers hê en 'n moderne, gesofistikeerde baken in die hawestad wees.

Die projek word spesifiek in die sentrale sake­kern gedoen om besigheid te bevorder, asook akkommodasie te bied vir die voorspelde bogemiddelde groei in die toerismesektor landwyd oor die volgende paar jaar.

Die fasiliteit gaan oor vierstergeriewe beskik, insluitend 'n restaurant, 'n straatbistro, 'n kroeg op die dak en 'n swembad. Daar sal ook 'n sakesentrum wees met kantore, raadsale en 'n fasiliteit wat 120 konferensie­gangers kan akkommodeer.

Afhangend van die argitektoniese ontwerp, sal dit tussen agt en tien verdiepings hê, met 'n totale vloeroppervlak van ongeveer 7 800 vierkante meter, asook 154 parkeerplekke. Dit sal oor 'n tydperk van 22 maande gebou word.

Daar sal 'n veelvlakkige parkeergarage wees, asook parkeerplek op die grondvlak aangrensend tot Sam Nujomalaan vir die publiek se gebruik.

Na raming sal 200 tydelike werksgeleenthede gedurende konstruksie geskep word, asook 100 permanente posisies sodra die fasiliteit in gebruik geneem word.

Die ontwikkelaar is 'n filiaal van die Iris-groep Group. Die maatskappy bedryf tans die Iris Boutique Hotel en die Raft by die Walvisbaai-strandmeer.

Volgens die ontwikkelaar bring besoekers dikwels 'n dag op Walvisbaai deur, maar gaan op Swakopmund tuis. Die hotelontwikkeling het ten doel om hierdie kwessie aan te spreek en reisigers aan te moedig om Walvisbaai hul tydelike verblyfplek te maak.