Hentiesbaai het groot planne

Burgemeester wil lewens verbeter

23 February 2021 | Local News

Lewies Vermaak, Hentiesbaai-burgemeester; “Ons kan dan darem op ’n klein skaal begin om lewens te verbeter…”

Hentiesbaai • [email protected]





Die nuwe munisipale raad van Hentiesbaai het verlede week ’n openbare vergadering gehou om die planne van ’n taxistaanplek en informele mark met die dorpsmense te deel.

“Hierdie planne is nog lank nie finaal nie. Ons is nog besig om ons huiwerk te doen, maar hierdie is iets wat ons baie graag wil realiseer. Dit is iets wat die vorige raad ook bespreek het, maar hulle het dit net nooit gedoen nie,” sê Lewies Vermaak, die burgemeester van Hentiesbaai.

Vermaak meen die oprigting van die taxistaanplek gaan nie net lewensgehalte op die dorp verbeter nie, maar ook die munisipale raad die kans gee om ’n ogie op misdaad te hou.

“Baie misdadigers word met taxi’s van misdaadtonele vervoer en selfs gesteelde goedere in die geval van diefstal. Met die taxistaanplek wil ons graag ’n taxivereniging stig om beter beheer oor die taxi’s in die dorp te hê,” sê hy.

INFORMELE MARK

Die informele mark sal konflik tussen winkeleienaars en straatsmouse verlig.

“Die informele mark kry die smouse van die strate af en voorsien hulle met ’n ordentlike staanplek waarvandaan hulle kan smous. Dan hoef hulle nie voor winkels te staan en besigheid te beïnvloed nie,” sê Vermaak.

Die Hentiesbaai- munisipale raad sal gedurende die week besoek aan informele markte en taxistaanplekke op Swakopmund en Walvisbaai aflê om meer oor die logistiek agter die oprigting te leer.

“Ons gaan op Swakopmund en Walvisbaai ’n beter idee kry van wat ons wil doen, maar ons gaan definitief eers klein begin. Ons kan dan darem op ’n klein skaal begin om lewens te verbeter, veral nou dat mense so bedruk is deur die pandemie,” sê die burgemeester.

Vir Vermaak gaan hierdie poging verder as net nuwe geriewe vir sy dorp.

“Wanneer ek as burgemeester uittree wil ek ’n nalatenskap agterlaat en kan wys dat ek ’n verskil in mense se lewensomstandighede gemaak het,” sê hy.