Groot planne vir nuwe winkelsentrum

Hoop vir Usakos

24 September 2019 | Business

Riwayn Doeseb; Upper Level Investments; "Sodra ons die vereiste aantal huurders gekry het, sal ons die grond aankoop..."

Usakos - Otis Finck



Riwayn Doeseb en Franco Narib van Upper Level Investments het planne vir die oprigting van die Coastal Gateway-winkelsentrum aan die dorpsraad van Usakos voorgelê.

Die uitvoerende hoof van Usakos, mnr. Ivin J Lombardt, het die beplande ontwikkeling verwelkom en gesê dit hou vir seker ekonomiese voordele vir die dorp in.

"Dit sal ons klein ekonomie oopstel en ook sake diversifiseer. Die bekendstelling van nuwe sektore in die Usakos-ekonomie sal beslis goed wees vir innovasie."

Volgens Doeseb sal die beplande kompleks teen 'n geraamde koste van tussen N$10 miljoen en N$15 miljoen gebou word.

Die winkelsentrum sal ongeveer 1 km van Hakhaseb geleë wees. Dit sal ook strategies en sentraal geleë wees by die kruising aan die B2-pad wat Windhoek en Swakopmund met mekaar verbind.

“'Ons wil tussen 20 en 25 winkels, asook 'n diensstasie akkommodeer. Ons streef daarna om die bestaande handelsone vir inwoners en kliënte in die nabye omgewing soos Otjimbingwe, Karibib, Spitzkoppe en Okombahe te verbeter deur geleenthede te bied vir nuwe en bestaande ondernemings wat gemik is op die ontwikkeling van die dorp.”

Doeseb het bevestig dat 'n bestuurskontrak met Ramos Realtors Namibia onderteken is om huurders te bekom. Volgens hom kan in November met die ontbossing op die konstruksieterrein begin word. Meer as 20 mense sal tydelik vir die doel in diens geneem word.

“Ons het ook ’n ooreenkoms gesluit en ’n finale bedrag vir die grond in samewerking met die raad bepaal. Ons beoog om 70% van die vereiste huurders te kry voordat die konstruksieproses afskop. Sodra ons die vereiste aantal huurders gekry het, sal ons voortgaan met die aankoop van die grond en die onderhoud daarvan. ’n Landmeter is in diens geneem en ons is besig om die dienste van 'n siviele ingenieur te verkry. ”

Hy het ’n uitnodiging gerig aan die sake- en kleinhandelsektor om by die ontwikkeling betrokke te raak om dit te realiseer en ekonomiese transformasie op Usakos te verseker.

“Die aanduiding is dat sommige plaaslike sake-eienaars belang stel en graag met ons wil saamwerk. Ons moet egter ’n groot handelaar soos ’n ketting- of klerewinkel, asook die dienste van 'n bankinstelling of twee en ’n groot hardewarewinkel bekom. ”

Doeseb het gesê dat toenemende eise en aantal besoekers aan Usakos in ag geneem is.

“Ons beoog om 'n gerieflike winkelsentrum op te rig om voorsiening te maak vir hierdie groot aantal reisigers aan die kus- en stadstreek, asook vir die plaaslike inwoners. Plaaslike inwoners sal in diens geneem word en dit sal nuwe geleenthede en maniere skep om inwoners te bemagtig. Daar sal gedurende die konstruksiefase werkgeleenthede geskep word, sowel as permanente werkgeleenthede in die kleinhandel- en instandhoudingsektor. ”