Genoeg is genoeg

Staptog teen geslagsgeweld

01 October 2019 | Crime

Walvisbaai · Leandrea Louw



Lede van die Tutaleni-polisiegemeenskapsforum, die Namibiese polisie en die algemene publiek het Saterdag in opstand teen geweld teen vroue en kinders, asook sosiale kwessies deur Kuisebmond gemarsjeer.

Ao. Simon Haikali, die bevelvoerder van die Tutaleni-polisiekantoor, het gesê die mars is gereël om die polisie en gemeenskap te help betrek in die bekamping van misdaad in die omgewing sowel as die land.

“Met hierdie optrede kan ons sterk verhoudings tussen die gemeenskap en polisie opbou, en moontlike wrewel tussen die twee uit die weg ruim. Hierdeur kan ons ons gemeenskap opvoed en hulle aanmoedig om aan gemeenskapspolisiëringpogings deel te neem.”

Pastoor Mandeza Phiri, voorsitter van die Tutaleni-polisiegemeenskapsforum, het gesê die voortdurende geweld teen vroue en kinders laat gemeenskappe demokrasie in die land betwyfel.

“Ons wil met hierdie staptog bewustheid skep en ons gemeenskap deeglik van misdaad bewus maak. Ons moet nou as ’n nasie saamtrek om ons probleme direk te konfronteer. Die land treur oor die dood van verskeie vroue en meisies wat deur mans vermoor is. Hierdie moorde het groot pyn en verontwaardiging veroorsaak. Sulke brutaliteit vind te veel in ons gemeenskappe plaas. Geweld teen ons vroue en kinders is lankal meer as ’n nasionale krisis – dit is 'n misdaad teen die mensdom. "

Phiri het gesê hy is erg onsteld oor die “oorlog teen vroue”.

“Vroue het die reg om gevrywaar te wees teen enige teistering of geweld op straat, in skole, op kampusse, busse, by die werk, by eredienste, in taxi’s, treine en hul huise. Die kollektiewe pyn, woede en vrees wat hierdie moorde veroorsaak het, moet ons nog meer vasberade maak om alle vorme van geweld stop te sit wat mans teenoor ons vroue en kinders pleeg.”

Hy het 'n dringende beroep gedoen op die gemeenskap, veral jongmense, om misdaad te beveg.

“Staan op teen dwelm- en alkoholmisbruik, geslagsgebaseerde geweld en alle vorme van sosiale euwels in ons gemeenskap. Die kwessie gaan nie oor wat 'n vrou gesê het, wat sy aangetrek het of waar sy loop nie. Die mans van hierdie land is verplig om sulke gedrag te staak. Ons moet ons vroue en meisies met waardigheid en respek behandel.”

Misdaadstatistieke dui 'n beduidende toename aan in gevalle van geslagsgebaseerde geweld wat by die polisie in die Erongostreek aangemeld is. Vanaf Januarie tot September is 287 sake aangemeld.