Gemeenskap staan saam teen geweld

Genoeg is genoeg

10 September 2019 | Local News

Penelope Martin-Louw; Adjunkburgemeester; “Geweld en wreedheid teenoor vroue en kinders toon 'n opwaartse kurwe.”

Walvisbaai • Leandrea Louw



In Julie en Augustus is 26 kinders verkrag. Op Kuisebmond is 'n vrou se keel afgesny. 'n Ma van vier is voor haar kinders vermoor.

Ter herinnering aan die slagoffers van dié grudade is 'n saamtrek Donderdagaand by die Narraville-stadion op Walvisbaai gehou. Kerse is aangesteek en gedigte is voorgelees.

Me. Luzelle Yon Lestrade, die organiseerder van die byeenkoms, het gesê om te huil, asook verontwaardiging en protes in die sosiale media uit te spreek, is eenvoudig nie genoeg nie.

“Ek het gesien hoe van my vriende in Suid-Afrika mense mobiliseer om 'n verskil te maak, en besluit om dieselfde op Walvisbaai te doen.”

Yon Lestrade het gesê dit is verskriklik dat mense hulle in 'n samelewing bevind waarin die lewe van vroue en kinders nie saak maak nie.

“Ons kan nie terugsit en stilbly nie. Ons kan ook nie onverskillig wees deur self op te tree teen die skuldiges en die reg in ons eie hande te neem nie. Maar iets moet gedoen word. Hierdie samekoms is nie die antwoord nie, maar dit is 'n begin. Die gemeenskap moet saamstaan en duidelik te kenne gee dat ons keelvol is vir al die geweld.”

Die geleentheid is deur mans, vroue, jonk en oud, bygewoon.

Me. Penelope Martin-Louw, die adjunkburgemeester van Walvisbaai, het gesê niemand verdien dit om hul lewe te laat verkort deur iemand wat nie ag slaan op die regte van ander nie.

“Alhoewel huishoudelike geweld by verskeie geleenthede veroordeel is, blyk dit op dowe ore te val.

“Ons het vir strawwer vonnisse gevra en gee toe dit lyk of die howe wel 'n strenger benadering begin volg. Desondanks sal die misdaadstatistieke heelwaarskynlik toon geweld en wreedheid teenoor vroue en kinders toon 'n opwaartse kurwe. Daar is egter geen rede om hoop te verloor nie en ons moet 'n blywende oplossing vind.”

Sy het ook 'n beroep op die verskillende belangegroepe doen om deurlopend intensiewe bewustheid te skep, en gevra dat diegene wat verskillende gemeenskapsprogramme bestuur, saam moet werk om geweld teen kinders en vroue te bekamp.

Martin-Louw het ook mans versoek om vir hulp te vra, sou hulle dit benodig.

“Dit kan help om met 'n betroubare vriend, familielid of pastoor te praat. Doen dit liewer as om later spyt te wees oor jou aksies.”