Europa op Swakopmund silwerskerm

Buitelandse filmfees sluit môre op ’n hoë noot af.

09 November 2019 | Art and Entertainment

Jan Kruger; Atlanta Cinema-eienaar; “Ek dink Hairareb gaan die meeste mense lok.”

Swakopmund · [email protected]

Die Europese Unie (EU) het hierdie week ’n Europese Filmfees op Swakopmund aangebied. Vertonings het Maandag met The King of the Belgians begin en eindig Sondagaand op ’n spesiale noot met die vertoning van Hairareb, ’n Namibiese film deur Oshoveli Shipah.

Hoewel nie Europees nie, word Hairareb as die juweel in die filmfees se kroon beskou. Hou egter die sakdoeke nader, aangesien dié eg Namibiese liefdesverhaal met tragedie deurboor is.

“Ek dink Hairareb gaan die meeste mense lok, aangesien dit ’n Namibiese film is,” het Jan Kruger van Atlanta Cinema op Swakopmund gesê. Die vertoning begin om 17:00 by Atlanta Cinema Swakopmund draai.

The King of the Belgians is ’n “mockumentary” waarin die Belgiese koning en sy gevolg gestrand raak wanneer die Franssprekende helfte van die land onafhanklikheid verklaar. Hy kan egter nie sommer só huis toe gaan nie omdat daar ’n storm woed. Daarna volg ’n skreeusnaakse reis vir hulle.

Dinsdag is Dome Karukoski se Tom of Finland vertoon. Die film handel oor Touko Valio Laaksonen, beter bekend as ‘Tom of Finland’. Hy was ’n waaghalsige kunstenaar wat, toe dit onwettig was om gay te wees, gay paartjies en die gay filosofie in sy kuns uitgebeeld het. Só het sy bydrae van hom ’n gay-ikoon van die 20ste eeu gemaak.

Gisteraand was Veve aan die beurt waarin Simon Mukali ’n agteraf politikus, sy ongelukkige vrou en ’n oudmisdadiger in ’n mengelmoes van drama veroorsaak. Die resultaat is ’n tamaletjie in die narkotika besigheid.

Marco Martins se São Jorge het ook gedraai. In dié rolprent word Jorge, ’n werklose bokser, in ’n wêreld van geweld en misdaad gedompel wanneer hy werk by ’n skuldinvorderingagentskap begin in ’n poging om sy finansies te laat klop.

Bloody Milk het Vrydagaand die gehoor vermaak. In dié fliek erf Pierre Chavanges sy ouers se plaas. Wanneer een van sy koeie siek word, is daar niks wat hy nie sal doen om te keer dat sy ander diere siek raak nie.

El Apóstol het ook gehore op die punt van hul stoele gehou. ’n Gevangene ontsnap en is op soek is na ’n verlore skat. Sy reis ontaard egter vinnig in ’n nagmerrie.