ECS kry nog 'n helpende hand

Jare se ervaring

03 August 2021 | Local News

Carel Arangies; ECS-voorsitter; “Die mense moet eet en dit dwing hulle om hierdie goed te doen om te oorleef.”

Hentiesbaai • [email protected]



Ná 'n toename in misdaad op Hentiesbaai, streef Erongo Community Services (ECS) nou om die veiligheid van die dorp te verbeter.

Mnr. Carel Arangies is gevra om hiermee te help. Hy was nie net in die weermag nie, maar het jare lank saam met die Walvisbaai-buurtwag gewerk en was ook die streekbevelvoerder van die Namibia Marshall Rangers.

Sy eerste taak is om die gemeen­skap te betrek. “Hulle bly ons oë en ore in die strate,” sê Arangies.

Hy hoop ook om sekuriteitsgroepe soortgelyk aan buurtwagte op Hentiesbaai se Noordduin, Suidduin, Sun Bay en sentrale sakegebied te stig.

“Ons as ECS gaan dan eintlik net inspring as dit nodig is,” sê hy.

Arangies glo die ontspanne houding van Hentiesbaaiers is 'n faktor wat tot misdaad in die dorp bydra. “Mense glo mos Hentiesbaai is 'n aftreedorp en 'n vissersgemeenskap, dus is hulle baie ontspanne.”

Hy sê ook die moeilike tye wat deur die huidige ekonomiese resessie veroorsaak word, dra tot misdaad by.

“Mense moet eet en dit dwing hulle om hierdie goed te doen om te oorleef.”