Dokter draf vir Hands of Hope

’n Fiksheidfanatikus het bewys daar is baie wat gedoen kan word ten spyte van inperkings.

28 April 2020 | People

Dr Keletso Nyathi; Drawwer; “Ek was moeg, maar ek kon maklik nog aangegaan het.”

Swakopmund • [email protected]


’n Dokter het Saterdag sy drafskoene aangetrek en 122km kaf gedraf – en dit vir liefdadigheid.

Dr. Keletso Nyathi het 13 keer om die Omeya-landgoed gedraf en lede van die publiek gevra om minstens een Namibiese dollar te skenk vir elke kilometer wat hy draf.

Nyathi sê hy het oorspronklik beoog om die Ultra Trail Drakensberg aan te pak, maar dat die inperkings gebonde aan die Covid-19 pandemie sy planne gekortwiek het. Die organiseerders het toe aan diegene wat ingeskryf het gevra dat hul inskrywingsgeld aan Suid-Afrikaanse Covid-19 verligting te skenk.

“Ek het gevoel dit is ’n goeie idee om vir ons plaaslike verligtingspogings geld in te samel,” het hy gesê.

Die geld wat Nyathi ingesamel het, sal aan Hands of Hope geskenk word. Dié liefdadigheidsorganisasie het egter besluit om skenkings vir Nyathi se doelwit tot Woensdag oop te hou.

Hands of Hope het bevestig dat geld wat Nyathi ingesamel het, sal bydra tot die doelwit om 60 kospakkies ter waarde van N$400 elk uit te deel.

Teen Dinsdagoggend het daar al amper N$10 000 se hulp ingestroom te danke aan die dokter se poging.

“En die beloftes vir nóg bystand kom ook nog in,” het Niki Carstens, ’n vrywilliger by Hands of Hope, gesê.

Die drawwende dokter meen die ondersteuning op aanlynplatforms hom die hupstoot gegee het wat hy nodig gehad het.

“Ek het dele van my drafstap op my Facebook-blad uitgesaai. Dit was baie goed om die ondersteuning te sien, hoewel daar nog baie was wat nie geweet het van my poging nie.”

Hoewel dit ’n strawwe toets was, het hy die 122km afstand met ’n huppel in sy stap voltooi.

“Ek was moeg, maar ek kon maklik nog aangegaan het. Ek dink ek sou tot by 160km of 180km kon uitkom,” het hy gesê.