Die monument

29 March 2018 | Columns

Soos dit mos maar elke lokasie betaam, is daar die een plek wat se reputasie hom vooruit loop.

Vroeër jare was dit die alombekende “Cowboy Bar” hier by ons in Narraville. Die plek was die hel self en is glo só gedoop as gevolg van die “western bar”-swaaideure wat menigte bloeddorstige vistermanne en ander besoekers van heinde en verre met ope arms by die ingang verwelkom het.

Volgens baie anties was dit ’n broeines vir sondes. Binne was daar soms woes vuis geslaan en het daar ook vlymskerp mesgevegte uitgebreek.

Die toppies het veral op Vrydae en Saterdae in hordes opgeterk om hul dors te les en van hul sorge te gaan verdrink.

Buite was die tsotsies doenig en die reuk van dagga het in die lug gehang. Die teer lamppaale het snags ’n dowwe ligstraaltjie gegooi en die digte mis het ’n beskermende komberswolk om hulle gevou.

Wanneer die alkohol die oorhand begin kry het, was daar luidrigtig gekruide taal oor en weer geslinger. Die vonke het gespat, vuiste het geklap en die bloed het ook soms vrylik geloop.

Dit was vir ons laaities destyds soos ’n aksiebelaaide skop, skiet en donner fliek. Ons kon nie wag vir die naweek se opwinding nie!

Die einste bar is nog daar, maar baie van die oumanne is nie meer nie. Hulle spore is lankal deur die oostewinde weggewaai. Die laaities van toeka se tyd is vandag die grootmanne. Maar baie van hulle het ook al weg gekwyn en het met die verloop van tyd, soos mis in die vroeë oggendson verdwyn.

Deesdae is dit die jongergarde wat op die sypaadjie, in die parkie voor en in die kroeg uithang. Kliphaarde musiek verdoof die geprekke.

By hubbly bubblies borrel digte, donker rookwalms uit en word vrylik gerook by die parkeerarea rondom die parkie. Die dronknes is nie meer privaat nie en het nou sommer ’n publieke plek geword. Dis aansielik erger wanneer die plaaslike rugbyspan die dag ’n tuis wedstryd gewen het.

Nie eens die flitsende blou ligte van ’n vangwa kry dit reg om die oorheersende gees te blus nie.

Jeugdiges op pad na die winkels in die omgewing staar met verlangende vonkels in hulle oë na die partie en lek hulle lippe af vir die dag wanneer hulle die gemorstery kan mee maak.

Net soos baie voor hulle, sal hulle ook vergaan maar ek is seker daai monument gaan vir lank nog bly staan.