Die engelstemme van Mondesa

Die mooiste harmonie van mans- en vrouestemme gevind in Swakopmund

08 November 2019 | Art and Entertainment

Isaskar Eichab; Koorleier; “Net twee van ons koorlede werk tans, terwyl die res van ons uit ons optredes by The Tug ’n bestaan maak."

Swakopmund • [email protected]

Met ’n onlangse besoek aan die kus dwaal ek teen sononder by die die jetty in Swakopmund rond waar ek iets warms teen die ysige wind by die Tug-restaurant aanklop.

Met die son wat stadig in die weste sak, hoor ek skielik en heel gepas die mooiste harmonie van mans- en vrouestemme wat stadig hulle stembande opwarm. Met nadere ondersoek ontdek ek sewe koorlede wat met die komende skemer toeriste en plaaslike kliënte met die mooiste a cappella-sang en danspassies vermaak.

Isakar ‘Izzy’ Eichab, een van die drie stigterslede en koorleier van The 8th Octaves, het my vertel dat hy en twee vriende die groep ses maande gelede uit nood gestig het. Izzy sê die koor se naam verwys na die verskeie oktawe wat die mens kan sing.

“Ons is vriende wat mekaar meestal van skooldae af ken en wat in Mondesa woon. Hoewel ons ouderdomme tussen 18- en 26-jaar wissel, is ons as een in musiek saamgesnoer. Ons kom van verskeie dorpe soos Maltahöhe, Otjiwarongo, Okahandja en Keetmanshoop, maar die meeste is maar Swakopmunders wat hier gebore en getoë is.

“Net twee van ons koorlede werk tans, terwyl die res van ons uit ons optredes by The Tug ’n bestaan maak. Ons tree elke dag van die week vanaf 18:00 tot 22:00 onder by The Tug op. Baie van ons het na Swakopmund getrek in die hoop om werk te kry, maar dit sukkel tans met die ekonomie wat almal aan die keel beet het.

“Nie een van ons het enige formele sangopleiding gehad nie. Daar is wel lede wat note kan lees en musiekteorie verstaan. Wat lekker is, is dat ons almal passievol is oor ons koor en die toekoms. Die afgelope ses maande was maar ’n druppel in die emmer van wat vir ons voorlê.

“Ons oefen elke dag en groei steeds as ’n eenheid om beter te kan harmoniseer en ons danspassies te verbeter. Elke lid dra die koor en mekaar se belange op die hart en lewer sy besonderse en unieke bydrae om ons as ’n eenheid te maak werk.

“The 8th Octaves is nog nie suksesvol nie. One skaaf en werk bitter hard daaraan om te verbeter. Ons het in Oktober’n optrede by die Duitse Evangeliese Lutherse kerk hier in Swakopmund aangebied. Ons en die gehoor het dit vreeslik geniet, want dit is lekker om ’n gehoor te hê wat jou musiek waardeer en waarmee jy interaksie het.

“Ons wil om ’n beter inkomste vir onsself te genereer, meer konserte hou. Ons is beskikbaar om by enige geleentheid op te tree en doen dit reeds by troues, begrafnisse en enige geleenthede waar sang waardeer word,” vertel Izzy trots.

Die koor van nege beplan om volgende jaar hul eerste toer van die suide tot die noorde van Namibië te onderneem. Die a cappella-groep het reeds hul eerste album opgeneem en beplan ’n tweede vir volgende jaar.

Hul CD met die titel Sing with Pride, is só gekies omrede die koor glo ’n mens alles met trots in die lewe moet aanpak. Die koor se motivering in die lewe is as ’n mens nie trots is op wat jy doen nie, kan jy nie in jouself as ’n musikant of as mens glo nie.

Izzy vertel nie een van die koorlede het al die knoop voor die kansel deurgehaak nie, maar vyf van hulle het wel kinders. Dié koor se harte klop ook reg, want hulle wil graag minderbevoorregte kinders met klere help. Hulle wil ook graag plaaslike skole, weeshuise, ouetehuise en die tronk besoek om mense te vermaak.

Die koor het al self van hul musiek geskryf en het tans 20 snitte in hul repertoire wat hoofsaaklik het uit tradisionele liedjies bestaan hoewel daar dele is ’n meer moderne aanslag, sê Izzy.

“Ons klomp staan deur dik en dun saam. Die lede verstaan en ondersteun mekaar waar dit nodig is. Ons is nie net ’n koor nie, ons is ’n familie. Ons as koor wil vir die jeug sê dit is nie te sê as jy in armoede gebore is, jy armoedig is nie. Werk aan jou drome en glo in jouself,” het Izzy afgesluit.

Benewens Izzy, is die stigterslede Ricardo Nembungu en Rensley Hoëb. Die koorlede se manstemme is Mogen Rooi, Izzy Isaskar Eichab, Quinton Gaseb (tenore), en Ricardo Nembungu, Rensley Hoëb en Denzyl van Rooy (bas). Die vroue is Brendelyn Keramin, Debbie Tsamases (alt) en Renolda Howaes wat met haar goue stem as sopraan die koor met verskeie solo-bydraes voorgaan.

The 8th Octaves se eerste produksie, Sing with Pride, waarop dié koor nie min trots is nie, kos N$150 (plus verpakking/posgeld). Die CD kan by Izzy self by 081 778 8364 bestel word. Die koor nooi mense vriendelik om hul Facebook-blad, The 8th Ocatves, te besoek.