Bewustheid oor brandbekamping verskerp

Die munisipaliteit van Swakopmund leer inwoners hoe om brande te voorkom.

18 September 2019 | Local News

Robeam Ujaha, gesondheidsinspekteur; “Meeste van die brande waarmee ons te doen het, is in die DRC.”

Swakopmund • Iréne-Mari van der Walt

Die munisipaliteit van Swakopmund het onlangs ’n praatjie oor brandveiligheid by die DRC sportveld gehou.

Die geleentheid is deur Robeam Ujaha van Swakopmundse munisipaliteit geopen, waarna ’n opvoering deur die Mondesa drama groep gelewer is om aan toeskouers te demonstreer hoe brande in veral gehuggies in informele nedersettings ontstaan.

“Die verhoogstuk takel eintlik drie gemeenskapsprobleme gelyktydig: Alkoholisme, geweld teen vroue en kinders, en brande,” het Ujaha ná die opvoering gesê.

Om te demonstreer hoe vinnig brande buite beheer kan raak, is ’n motorband bo op ’n plakkershuis wat spesifiek vir die geleentheid gebhou is, geplaas en aan die brand gesteek. Die munisipaliteit wou juis die gevaar wat hierdie bande wat as versterking op dakke dien, uitwys.

’n Stophorlosie is gebruik om die brandweer se reaksietyd te toets: Eers ná meer as 8 minute kon die brandweer die vlamme begin blus – iets waaroor die skare erg ontevrede was. Verskeie uitlatings soos “waar is die brandweer?”, “hulle vat altyd lank” en “die hele plek het teen nou al afgebrand as dit rêrig was” is geopper.

Na die opvoering en demonstrasie het die skare deelgeneem aan ’n vraag-en-antwoord speletjie. Basiese kennis oor brandveiligheid is getoets en diegene wat reg kon beantwoord, het elkeen een van vier brandkomberse en ses brandblussers, wat deur Excellent Fire Services geborg is, gewen.
Lede van die brandweer het ook gewys hoe om dié toerusting op die regte en veiligste maniere te gebruik.