Besoekers aan ruskamp krimp aansienlik

Toeriste voel ekonomiese knyp

07 January 2020 | Tourism

Imanuel Kaufilwa; Ontvangsbeampte; “Een van die redes vir die afname in die aantal gaste is dat ons pryse met 5,5% gestyg het.”

Swakopmund · [email protected]



Aansienlik minder mense het die feesseisoen in Swakopmund se munisipale bungalows gaan uitspan.

Statistiek toon ‘n skerp daling. ‘n Hele 1 159 minder gaste het tussen 1 Oktober en 23 Desember 2019 verblyf hier bespreek in vergelyking met 2018. Dit verteenwoordig ‘n afname van 17,6%.

In die laaste kwartaal van verlede jaar is 5 416 besoekers gehuisves teenoor 6 575 mense in die ooreenstemmende periode die vorige jaar.

“Dit was maar in die algemeen ‘n baie swak jaar vir ons. Een van die redes vir die afname in die aantal gaste is dat ons pryse met 5,5% gestyg het,” verduidelik mnr. Immanuel Kaufilwa, ontvangsbeampte by die ruskamp.

“Dit kan ook wees as gevolg van ‘n toename in mededinging.”

Beskikbare syfers wys ook mense het verkies om vir korter tye by die ruskamp te vertoef.

In die periode van drie maande het verblyfnagte van 15 789 tot 12 514 afgeneem. Dit is 3 275 nagte minder, oftewel 20,7%.

In 2019 is ‘n totaal van 3 301 bungalows en kamers oor die tydperk verhuur in vergelyking met 4 191 in 2018. Dit is 890 eenhede (21,2%) minder.

Toeriste uit Namibië (4 593), Botswana (412) en Suid-Afrika (275) het die meeste van die ruskamp gebruik gemaak. Die aantal gaste uit hierdie drie lande was in 2018 onderskeidelik 5 667 (Namibië), 324 (Botswana) en 403 (Suid-Afrika). Besoekers uit Botswana het dus wel toegeneem.

Daar was ook 'n merkbare afname in die aantal gaste uit Duitsland. Net twee gaste het in die afgelope kwartaal by die ruskamp gebly teenoor 82 tydens dieselfde periode in 2018.