Atletiek se jong boompies word gebuig

Die Pupkewitz Ope Atletiekkompetisie is gemik op die ontwikkeling van môre se topatlete.

14 September 2021 | Sports

Frank Slabbert; Atletieklegende; “Die kinders is honger vir atletiek”

Swakopmund • [email protected]


Die Pupkewitz Ope Atletiekkompetisie was ’n groot trekpleister vir jong atlete landswyd.

“Die kinders is honger vir atletiek,” het atletieklegende Frank Slabbert, wat die geleentheid bygewoon het, gesê.

Slabbert het ook met trots oor die atletiekbaan by die Vineta-sportstadion gesels.

“Die gras groei hoog by die Onafhanklikheidstadion. Ons is bevoorreg om so ’n netjiese baan te hê.”

Die jong klomp se lus vir lekker atletiek is bevestig deur die deelnamesyfers wat verdubbel het sedert die vorige Pupkewitz Ope Atletiek in Maart vanjaar.

Tóé het ongeveer 130 atlete deelgeneem en by die pas afgelope byeenkoms het 519 jong talente hul staal kom wys.

Tog het die hoë bywoningsyfer vir die organiseerders ’n logistieke uitdaging meegebring. Organiseerder Hennie Horn het egter gesê hulle kon daarin slaag om nie meer as 92 persone gelyktydig op die baan te hê nie.

Horn wou aanvanklik deelnemers wat 800 punte op die ISS-skaal behaal het, as die beste van die dag aanwys. Weens die uitstekende prestasie van deelnemers, moes hy sy verwagtinge verhoog.

Atlete wat volgens Horn uitmuntend presteer het is, as volg:

Guanito Noble – seuns o/13 100m – 12.06s, hoogspring – 5.12m en 200m - 25.06s
Ryk Erasmus – seuns o/17 100m – 11.14s en 400m 49.46s
Nandi Vass – vroue o/25 100m – 12.52s
Andre Retief – seuns o/19 400m – 49.28s
Lume Janse van Rensburg – meisies o/12 70m hekkies – 12.65
Lana Botma – meisies o/11 hoogspring – 1.43m
Anro Bouwer – seuns o/11 hoogspring – 1.45m
Arizhia van der Walt – meisies o/12 hoogspring – 1.48m
Josia Katroli – seuns o/15 hoogspring – 1.85m
Johannes Kanyangela – seuns o/17 hoogspring – 2.00m
Bernadette Smith – meisies o/15 gewigstoot 3kg – 12.39m
Ansune Smith – meisies o/13 diskus 0.75 kg – 30.35m
Amy-Isabella Nel – meisies o/12 diskus 0.75 kg – 28.05m
Adara Gey von Pittius – meisies o/13 hoogspring – 1.45m
Yoritha Delie – meisies o/12 200m – 28.81s
Elvis Gaseb – mans 0/25 100m - 10.55s