Amoré is Mej. Touchies

Skoonhede gee glans

31 December 2019 | Events

Hentiesbaai



Amoré van Schalkwyk het die gesogte Mej. Touchies 2019 titel Donderdag in Hentiesbaai gewen.

Die 20-jarige Van Schalkwyk het die Spartan Knights-span wat deelgeneem het in die gepaardgaande raak-rugby toernooi op die dag, verteenwoordig.

Sy was ook vroeër vanjaar as die tweede prinses in die Mej. Hentiesfees skoonheidskompetisie gekroon.

Amoré is oorspronklik van Suid-Afrika maar woon deesdae in Windhoek waar sy aan die Universitieit van Namibië studeer.

Royle-Ann Bussel (18) en Dominique Bouwer (18) is onderskeidelik as haar eerste en tweede prinsesse aangewys.

Bussel is 'n Swakopmunder en het die Ondukua Engineering-span verteenwoordig. Bouwer woon op Walvisbaai en het die Just Rangers-span verteenwoordig.

Daar was sewe deelnemeners in die senior afdeling van die skoonheidskompetisie.

Charlise Kemp (16) van Windhoek is gekroon as Mej. Touchies Teen. Shakira Borges (16) is haar eerste prinses en Caylinne Stevens (12) haar tweede prinses. Beide is van Walvisbaai. Sewe beeldskones het meegeding vir die titel in hierdie afdeling.

Die Klein Mej. Touchies-kompetisie is gewen deur Lalique Adams (7) wat in Windhoek woon. Ilse Monique van Zyl (7), ook van Windhoek en Abigail Stander (8) wat al die pad van Pretoria, Suid-Afrika gekom het, is onderskeidelik haar eerste en tweede prinsesse.

Daar was vier deelnemers in hierdie afdeling van die kompetisie.

Die skoonheidskompetisie is deel van die jaarlikse hengel-bonanza en raak-rugby toernooi wat op 26 Desember op Hentiesbaai gehou word.