Alles eg Namibies

Hoewel daar ruimte is vir verbetering, troef hierdie rolprent alles wat dit voorgegaan het en dien dit as ’n wegspringplek vir dit wat nog kom.

21 November 2019 | Art and Entertainment

Swakopmund • [email protected]


Ná ’n lang gewag het #LANDoftheBRAVEfilm verlede naweek sy buiging in Swakopmund gemaak en spog dit met alles wat eg Namibies is: “chow”, “kau” en “cherries”.

As deel van hul opleiding voor verfilming begin het, het die akteurs – wat meer gewoond is aan teaterwerk as filmwerk – aan ’n slypskool deelgeneem om die oorskakeling tussen die verhoog en die silwerdoek te bemeester. Byvoorbeeld, aangesien die verhoog verder van die gehoor is, verg dit meer dramatiese gesigsuitdrukkings en lyftaal. Wanneer daar egter voor die kamera toneel gespeel word, moet beide meer subtiel wees, siende dat die gehoor nou veel nader is.

Hoewel Elize de Wee een van die veterane in hierdie fliek is, was haar rol die een wat ’n ietwat wrang smaak in my mond gelaat het. Duidelik ’n uitmuntende aktrise, is Meisie Willemse se gesigsuitdrukkings en “slang” by tye só dramaties dit het aangeplak gevoel.

Die amateur akteurs het egter my asem wegslaan. Ek meen Pieter Greeff as Piet Potgieter en Khadijah Mouton as Cherry verdien ’n toekenning vir hul werk. Greeff het so te sê die glaserige, siellose psigopaat-kyk bemeester, en sonder om beledigend te klink, kan ek nie help om te wonder of Khadijah Mouton nie self op ’n stadium in Cherry se skoene gestaan het nie? Ek is oortuig hierdie vertoning moes iewers uit ondervinding gekom het. Dit kan nie andersins so perfek wees nie.

En elkeen van ons ken waarskynlik ’n Shivute. Met ’n riller wat rondom misdaad wentel, kan die atmosfeer soms swaar raak. Armas Shivute se spel het op die regte oomblikke nét genoeg komiese verligting gelewer.

Een ding waarvoor ek bang was in hierdie film, was daardie “leë vertrek eggo” wat in te veel Afrika-films en reekse voorkom. Hierdie is egter nie die geval nie en #LANDoftheBRAVEfilm spog met puik visuele redigering en klankproduksie.

Dis jammer dat die storielyn te vroeg weg gegee word. So vol kinkels en absoluut ongelooflik soos dit is, was dit nie vir my moeilik om twee en twee bymekaar te sit nie – en ek was nog nooit veel van ’n Sherlock Holmes nie. Die 10 minute na die besef, voel dan effens lank, gegewe dat jy wag vir die karakters om by jou in te haal. Sodra die groep die kloutjie by die oor kry, begin die intensiteit weer en die res van die fliek hou jou op die punt van jou stoel.

My verwagtinge vir #LANDoftheBravefilm het iewers by Noem My Skollie gedraai. Noem My Skollie is in die geval van Afrika-films ’n perfekte 10. Na my mening is #LANDoftheBRAVEfilm op hierdie skaal omtrent ’n 7.

Alles in ag geneem, sal ek beslis die film aanbeveel. Die teerpunte is nie té teer nie en die intense storielyn met die akteurs wat hul baie goed van hul taak kwyt, maak hierdie film beslis die kyk werd.

Ons is moeg vir “erre” wat rol en “God bless America” op ons grootskerms en daarvoor bied #LANDoftheBRAVEfilm die perfekte teenvoeter – ’n storie wat dié van ons wat “awê”, “nxa” en “jissie” sê, ook kan volg.

Ek glo hierdie fliek is ’n uitstekende voorbeeld waarby die Namibiese filmbedryf kan leer en verbeter. Ek kan nie wag om te sien wat volgende kom nie!