Warm truie vir koue kinders

Shaldon Johannes
Old Mutual het 66 skooltruie ter waarde van N$20 870 aan die Laerskool Hanganeni in Swakopmund geskenk.

Old Mutual se takbestuurder in dié kusdorp, Manfred Kaanjosa, het gesê leerlinge sal beter op hul studies kan fokus wanneer hulle nie koud kry nie.

“Ons vertrou ons bydrae sal tot voordeel van die kinders wees om hul studies suksesvol te voltooi, veral wanneer ’n uitdagende faktor soos die koue uitgeskakel word.”

Kaanjosa het voorts die skool se goeie prestasies in die streek geloof. “Die skool is werklik ’n inspirasie aangesien dit een van die hoogste gegradeerde akademiese laerskole in die Erongostreek gebly het, met uitstekende akademici, leierskap, sport en kultuur.

“Ek loof die onderwysers en alle ondersteuningspersoneel vir hul deursettingsvermoë en vasberadenheid om die kinders te help en om’n hoë gehalte onderwysstandaard te handhaaf. Die werk wat julle doen, is bewonderenswaardig en plaas ’n hele generasie op die pad na sukses.

“Old Mutual Namibia word deur verantwoordelike sake-etos gelei wat wedersyds ’n positiewe toekoms bevorder. Daarom, as deel van ons gemeenskapsontwikkeling, is ons trots daarop om met die Laerskool Hanganeni geassosieer te word.”

Kaanjosa het leerlinge aangemoedig om aan te hou presteer.

“Onthou om elke dag groot dinge te doen!”

Petrina Kandjungu, ’n graad 7-leerling en hoofmeisie, het Old Mutual namens die skool bedank.

“Ek wil graag ons waardering uitspreek aan die skenkers wat daaraan gedink het om leerlinge van die Laerskool Hanganeni met truie te help. Leerlinge moet tydens skoolure in uniform wees. Dit is belangrik om ’n uniform te hê, aangesien dit ons selfvertroue ’n hupstoot gee wanneer ons onder ons medeleerlinge by die skool is. Boonop help dit ons om geïdentifiseer en gesien te word wanneer ons saam met ander leerlinge van ander skole is.”