Narraville-ouetehuis byna ’n werklikheid

Nog hulp benodig
'n Beduidende bedrag is ingesamel tydens 'n dans en dinee om 'n ouetehuis in Narraville te bou.
Otis Daniels
Die raad van trustees van die Narraville-ouetehuis het ’n beroep op die gemeenskap van Walvisbaai gedoen om ’n groot blok baksteen per gesin per maand vir die oprigting van dié fasiliteit te skenk.

“Ons beoog om volstoom vorentoe te beweeg sodra ons die groenlig van die raad ontvang en die sooispitseremonie hou. Ons het almal se hulp nodig om ons senior burgers se lewens te verbeter deur vir hulle ’n plek van hul eie te bied wat hulle ’n huis en veilige hawe kan noem,” het die raadsvoorsitter van die Narraville-ouetehuis, David Williams, tydens ’n dans en dinee gesê wat gehou is om geld vir die oprigting daarvan in te samel.

Die minister van visserye en mariene hulpbronne, Derek Klazen, en die burgemeester van Walvisbaai, Trevino Forbes, het die geleentheid bygewoon waar ’n verdere N$150 000 ingesamel is.

Klazen het gesê die projek lê hom na aan die hart.

“Die idee is aanvanklik in 2004 ter tafel gelê maar het tot stilstand geruk. Die minister van plaaslike owerhede het destyds ’n borgskap van N$1 miljoen aangekondig vir die oprigting en tot voordeel van ouetehuise, maar die groep in Narraville was nie gereed nie en geen geld is ontvang nie. Verskeie vismaatskappye het egter in 2021 aanboord gekom en onderneem om ’n sukses van die projek te maak.”

Forbes het vertel hoe Williams en Daniel Mouton die munisipaliteit vir grond genader het.

“Die versoek om grond beskikbaar te stel is ter tafel gelê en is een van die min wat onbestrede aanvaar is. Ons ondersteun hierdie inisiatief ten volle.”

Hy het beklemtoon dat die projek nie sonder die ondersteuning van die gemeenskap sal slaag nie.

Die idee om ’n ouetehuis te bou wat aangepas is vir bejaardes se individuele behoeftes, het sowat 20 jaar gelede by Williams ontstaan, wat sy droom met ’n paar vriende gedeel het.

Die konstruksiekoste sal na verwagting sowat N$25 miljoen (BTW uitgesluit) beloop en sal in drie fases geskied.

Die ouetehuis sal bestaan uit ’n hoofsaal, ’n kliniek en 58 enkel- en dubbelwooneenhede met ’n badkamer, slaapkamer, kombuis en sitkamer wat teen ’n koste van N$250 000 per eenheid gebou sal word.

Meer as N$2 miljoen is reeds ingesamel tydens ’n dinee wat in Oktober verlede jaar gehou is. Tot dusver is N$1,3 miljoen ontvang ten opsigte van die beloftes wat gemaak is.