Munisipale raad oorweeg chlooralkali-aanleg

Leandrea Mouers
Die munisipaliteit van Walvisbaai het voorwaardelike goedkeuring verleen om 6,12 hektaar grond op Plaas 58 vir Erochem Chemicals te reserveer vir die vestiging van ’n chlooralkali-aanleg.

Volgens die voorsitter van die munisipale bestuurskomitee, Richard Hoaeb, het Erochem Chemicals in Julie vanjaar aansoek om grond gedoen om ’n 45 ton-per-dag chlooralkali-aanleg te bou.

“Die aanleg sal primêre produkte soos seepsoda en chloor vervaardig uit ’n pekelmengsel van sout en water sowel as seepsodavlokkies, soutsuur en natriumhipochloried.”

Daar is verduidelik dat die chlooralkali-proses chemies van aard is en sal gebruik word om elektrolise van natriumchloried of sout te vervaardig. Dit is ’n tegnologie wat gebruik word om chloor en natriumhidroksied te vervaardig.

Die ontwikkeling van ’n chlooralkali-aanleg in Walvisbaai sal die verwerking van plaaslike sout/pekel vergemaklik om natriumhipochloried-produkte plaaslik te produseer.

Hoaeb het gesê hierdie stap sal beslis waardetoevoeging in Namibië meebring, wat die regering se Growth at Home-strategie ondersteun.

“Die vestiging van hierdie aanleg sal ook dien as ’n katalisator vir nywerheidsgroei in nywerhede soos skoonmaakmiddels, waterbehandeling, chemiese en farmaseutiese produksie, papierproduksie, PVC-vervaardiging asook plastiek-, seep- en glasproduksie.

“Vanuit ’n ekonomiese ontwikkelingsoogpunt sal die vestiging van ’n chlooralkali-aanleg werkskepping en armoedeverligting in Walvisbaai meebring en dus ondersteun die raad die versoek.”

Hy het egter bygevoeg die 6,12 hektaar wat deur die aansoeker versoek is, moet van Deel 7 van Restant Plaas 58 onderverdeel word voordat die raad finale goedkeuring kan oorweeg.

Met hierdie voorwaardelike goedkeuring word van Erochem Chemicals verwag om binne 12 maande ’n omgewingsklaringsertifikaat in te dien, plus ’n haalbaarheidstudie oor of die projek lewensvatbaar is, en dat hy oor die finansiële vermoë beskik om die projek te begin en te voltooi.