Karibib se skou is om die draai

Besigheid én pret
Die jaarlikse Karibib ­Minerals, Gems & Commercial Show (KMG&CS) vind vanaf 28 September tot 1 Oktober plaas.
Shaldon Johannes
Die Charity Ambassador Trust beoog om die ekonomie van Karibib ’n hupstoot te gee met die aanbieding van die jaarlikse Karibib Minerals, Gems & Commercial Show (KMG&CS) wat vanaf 28 September tot 1 Oktober plaasvind.

Lede van die trust het met die inisiatief vorendag gekom vanweë hul liefde vir die dorp en die begeerte om geleenthede vir inwoners te skep met die hulp en leiding van die dorpsraad.

Die geleentheid lok entrepreneurs, klein- en middelgrootte-ondernemings, korporatiewe entiteite, ministeries en staatsdepartemente, sowel as plaaslike, streek- en internasionale uitstallers. ’n Geskatte meer as 6 000 besoekers en voornemende kopers sal na verwagting die geleentheid bywoon.

’n Inwoner van Karibib, Adelheid Seibes, sê sulke geleenthede is belangrik.

“Dit skep geleenthede vir die plaaslike mark. Geleenthede van hierdie aard behoort die norm in Karibib te wees aangesien ons in ’n baie klein dorpie woon en benadeel word omdat nie almal sake kan doen met die klein mark wat beskikbaar is nie. Hierdie skou bring nie net blootstelling nie, maar sal ondernemings van elders in staat stel om in Karibib te belê en sodoende die mark uit te brei.”

Aktiwiteite wat tydens die skou aangebied word, sluit in uitstallings, informele verkopers wat kos en ander items verkoop, ’n amptelike opening, veevertonings, kindervermaak, ’n skoonheidskompetisie, optredes met multikulturele musiek en danse, asook ander pret en vermaak.

Die woordvoerder, Nathan Haininga, sê die doel van die skou is om sakegeleenthede te skep en te versterk.

“Die hoofdoel is om die gees van innovasie aan te vuur, sakenetwerke uit te brei en ekonomiese geleenthede vir elke lid van die samelewing te ontketen deur kapasiteitsbou en die verbetering van kapitalisasie vir sosioëkonomiese selfstandigheid.

“Die skou sal ook maatskappy- en handelsmerkbewustheid onder handelaars verbeter. Dit bevorder ook kuns en kultuur en sal mense bymekaarbring.”

Haininga het ’n beroep op alle Namibiërs gedoen om in groot getalle te kom om die uitstallers te ondersteun en om die skou saam te geniet.