Noble, Azhar is skuldig

Onskuldig aan geldwassery
Die twee mans wat in 2018 met 412kg se kokaïen in hul vraghouer by Walvisbaai se hawe gevang is, is skuldig bevind
Kristien Kruger
“Die beskuldigdes het die dwelms met opset uit Brasilië ingevoer en het die besigheid as ’n front gebruik. Die beskuldigdes se weergawe dat hulle nie geweet het die dwelms is in die vraghouer nie, is vals en word verwerp.”

So het regter Orben Sibeya gister in sy uitspraak in die hoërhof in Windhoek gesê toe hy die smokkelaars van Walvisbaai, wat moontlik die grootste invoer van dwelms in Namibiese geskiedenis probeer uitvoer het, skuldig bevind het.

Op ’n klag van geldwassery is altwee beskuldigdes onskuldig bevind.

Grant Noble en Dinah Azhar het in 2018 ’n vraghouer met 412 kg kokaïen, ter waarde van sowat N$206 miljoen, vanaf Santos in Brasilië in die land probeer smokkel.

Die vraghouer was in die naam van Noble se maatskappy, ZEEKI Trading, ingevoer en moes 480 bokse fotostaatpapier in gehad het.

Doeanebeamptes by die hawe op Walvisbaai het ’n wenk gekry dat hulle op die uitkyk moet wees vir vraghouers wat papier en lekkergoed (sweets) in het.

Toe Noble en Azhar se vraghouer die hawe bereik, is dit deur die hawepersoneel onderskep en eenkant gehou totdat dit op 15 Junie 2018 in Noble se teenwoordigheid oopgemaak en deursoek kon word.

Dit was tydens dié visentering dat bevind is dat 20 van die 480 bokse klein pakkies met wit poeier bevat het.

Die pakkies is as bewysstukke ingeneem en die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NIFS) het later bevestig dat dit wel kokaïen is.

VERHOOR

Die dwelmhandelaars se verteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het beweer die visentering van die vraghouer was onregmatig omdat die polisie nie ’n geldige soektoglasbrief gehad het nie.

Sibeya het bevind dat die visentering wel wettig was.

“Die polisie het die doeanebeamptes bygestaan en hulle het die soektog behartig op grond van die doeanewet wat hulle die mag gee,” het hy in sy uitspraak gesê.

Sibeya het dit ook verdag gevind dat ZEEKI Trading, waarvan Noble die enigste aandeelhouer en Azhar ’n vennoot was, ’n pakhuis elke maand gehuur het, maar dat geen bedrywighede daar plaasgevind het nie.

Volgens Noble was hulle van plan om die fotostaatpapier in te voer en teen ’n wins te verkoop.

Sibeya het uitgewys dat hulle sowat N$130 000 aan huur betaal het, maar geen inkomste van die besigheid ontvang het nie.

Volgens Sibeya was dit ook verdag toe die polisie Noble opdrag gegee het om na hul perseel te kom sodat hulle die vraghouer kan deursoek, hy versoek het dat hulle dit by sy pakhuis moet doen.

BORGTOG TERUGGETREK

Aan Azhar was verlede jaar, tydens die verhoor, borgtog toegestaan. Aangesien hy gister skuldig bevind is, was sy borgtog onmiddellik teruggetrek en hy is in aanhouding geplaas.

Die partye sal op 8 en 9 September weer in die hoërhof in Windhoek verskyn vir finale betoë voor vonnisoplegging, waar die verdediging om ’n versagte vonnis en die staat vir ’n strawwer vonnis sal argumenteer.

[email protected]