Viskwotaveiling kom op regte tyd

Namibiese visserye kan meeding
Die huidige ekonomiese omstandighede in die plaaslike visbedryf kan waarskynlik die verwagte veilingopbrengs beïnvloed.
Augetto Graig
Die viskwota vir regeringsdoeleindes word eersdaags op veiling geplaas en 100 metrieke ton gevriesde monnikvis kan op gebie word.

Belangstellendes moet hul veilingbod teen 10:00 op 1 Julie by die ministerie van finansies indien. Internasionale bieërs moet per e-pos hul bod voor die sperdatum na [email protected] stuur.

Inkomste wat uit die veiling gegenereer word, is geoormerk om sosioëkonomiese, kulturele en ander regeringsdoelwitte te finansier, volgens die ministerie van finansies.

Die veiling sal ingevolge die Wet op Mariene Hulpbronne no. 27 van 2000 geskied en is ’n jaarlikse praktyk om Namibië se visbronne meer doeltreffend vir die Namibiese bevolking aan te wend.

Die toekenning van viskwotas was in die verlede in omstredenheid gehul, met dié spesifieke jaarlikse viskwota wat by die Fishrot-korrupsieskandaal betrokke was en in 2019 ’n internasionale skandaal ontketen het.

Mnr. Matti Amukwa, voorsitter van die Konfederasie van Namibiese Visseryeverenigings (CNFA), meen ’n veiling is nie die ideale manier om viskwotas toe te ken nie.

“Die koper is nie toegewy om die bedryf te ontwikkel of om werksgeleenthede te beskerm nie. Dit terwyl die administratiewe toekenningstelsel vir kwotas die regering toelaat om rigting aan die bedryf te gee, soos in die geval van die stokvissektor waar uitgebreide waardetoevoeging plaasvind, wat maksimumwaarde vir die land en werksgeleenthede verseker.

“Die veilingproses moet tot spesifieke regeringsdoelwitte beperk word, soos onder meer om die stryd teen die Covid-19-pandemie te finansier,” sê hy.

Volgens Amukwa sal Namibiese maatskappye aan die veiling kan deelneem aangesien die monnikvisseisoen op 1 Mei begin het en die veiling vroeg genoeg afgekondig is.

“Dit laat operateurs toe om die kwota in hul beplanning in te sluit en gee genoeg tyd om die vis te vang,” sê hy.

Alhoewel die visbedryf gebuk gaan onder uitdagende ekonomiese omstandighede weens hoër kostes, spesifiek brandstof, sê hy “die kapasiteit is beskikbaar om die vis te vang, en die tydsberekening is goed, maar die moeilike ekonomiese omstandighede kan die verwagte hoë pryse vir dié kwota belemmer.”

Amukwa sê daar is 1 000 metrieke ton monnikvis in Namibiese waters om te vang, soos in die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se jaarlikse voorraadbepaling van alle kommersiële spesies aangedui word.

“Die tydsberekening is goed d.w.s. as die proses vinnig afgehandel word. Die mislukkings van vorige veilings is weens die proses wat te laat begin het en voltooi moes word in ’n tyd wat voornemende bieërs nie toegelaat het om die opgeveilde kwota binne die visseisoen te vang nie,” sê hy. Dit was die geval in 2020.

[email protected]