Toets jou skryftalent met griffel-kompetisie

Sluitingsdatum om die draai
Leerlinge landswyd wat onderrig in Afrikaans ontvang, kan baat by die jaarlikse nasionale Waltons griffel-kompetisie.
Jeanette Diergaardt
In ’n poging om leerlinge se skryftalent ten toon te stel en aan die plaaslike skrywersgemeenskap voor te stel, het me. Henriette van Wyk die Waltons griffel-kompetisie in 2007 van stapel gestuur.

Tydens ’n vorige onderhoud het Van Wyk aan The Zone gesê die kompetisie is begin om skrywers die platform te bied om uiting aan hul diepste emosies te gee. “Die hoofrede was om aan daardie individu met skryftalent en diegene wat graag wil skryf, ’n platform te gee om met sy/haar woorde te woeker. Om daardie individu se skryfwerk verder te neem as net die Afrikaanse klas,” sê Van Wyk.

Vanjaar gaan die kompetisie soortgelyk aan die vorige jare s’n wees. Volgens Nicci Harmse, ’n onderwyser, kan leerlinge tussen kortkuns en digkuns kies en enige onderwerp aanpak wat hul hart begeer. Leerlinge kan sedert 2007 aan die kompetisie deelneem.

Die organiseerders voorspel – soos in vorige jare – dat die aansoeke nader aan die sluitingsdatum op 20 Mei sal begin instroom. Volgens Harmse verwag en hoop die organiseerders om meer aansoeke vanjaar te ontvang veral ná die laaste twee “digitale jare” wat deur die Covid-19-pandemie te weeg gebring is.

Riglyne vir die griffel-kompetisie

Grade 5 – 7 (maksimum 500 woorde)

Grade 8 en 9 (maksimum 700 woorde)

Grade 10 –12 (maksimum 1 000 woorde)

NB! Skryfstukke moet in Arial 12 met ’n 1,5-lynspasiëring getik word.

Verlede jaar se wenners:

Kortkuns:

Gr. 6 - 7: Louise McCarthy van Laerskool Walvisbaai (Eliminering)

Gr. 8 - 9: Lurika Maritz van WAP (Nagmerries is ook drome)

Gr. 10 - 12: Engela Genis van WHS (’n Bakster maak ’n plan)

DigkunsS:

Gr. 5 - 7: Zaria Jansen van Vuuren van WAP (Honde van Ys(ter))

Gr. 8 - 9: Nicolette Erasmus van Moria (My Wiskunde Gedig)

Gr.10 - 12: Beatrix Turner van WHS (Liena en die koei)