Skedelkus-saamtrek brul Swakop binne

Deelnemers uit alle oord verwag
Honderde motorfietsliefhebbers tree weer vanjaar vir die Skedelkus-saamtrek langs die kus aan.
Michelline Nawatises
Die Skedelkus Internasionale Motorfietssaamtrek vind vanaf vandag tot eerskomende Sondag in Swakopmund plaas.

Tot dusver het 380 motorfietsryers van verskeie lande geregistreer om die geleentheid by te woon. Volgens die direkteur van die Harley Owners Group (HOG), Holger Sircoulomb, is die laaste Harley-Davidson-saamtrek in Namibië verlede jaar vanaf 1 tot 4 Mei gehou. “Elke jaar, min of meer op dieselfde tyd, word saamtrekke by verskillende plekke van verskeie HOG Chapters en ander motorfietsklubs gehou.”

Sircoulomb het gesê daar kom ook heelwat deelnemers van elders na Namibië om die geleentheid by te woon. “Ons het ook hierdie jaar besoekers van Botswana en Duitsland.”

Hy voeg by behalwe dat deelnemers ’n gemeenskaplike liefde vir motorfietse het, hulle dit ewe veel geniet om weer ou vriende raak te loop. “Dis die hoofdoel van hierdie saamtrek. Vrydag word daar ook ’n liefdadigheidsveiling vir die Swakopmund Township Dog Project gehou en tatoeëerkunstenaars van Kaapstad sal by die feesterrein beskikbaar wees vir diegene wat hulself wil laat ‘inkleur’.”

Verblyfplekke op Swakopmund is amper vol bespreek en die saamtrek is beslis ’n ekonomiese hupstoot vir die dorp. Volgens Thelma Kirchner, hoofbestuurder van Hotel Deutsches Haus, akkommodeer hulle graag motorfietsryers. “Ons is bly om hulle te huisves en hulle vir hierdie paar dae tuis te laat voel,” sê sy.

Nog trekpleisters is ’n motorfietsuitstalling waar verskeie Harley-Davidson-modelle vertoon word, en ’n prys vir die mooiste motorfiets wat gewen kan word. Net Sportster, Softail, Trike, Touring, CVO, en Classic – indien ouer as 25 jaar – mag aan die uitstalling deelneem.

Die program skop amptelik vandag met die registrasie en verwelkoming af, waarna ’n aand van vermaak volg. Môre word die immergewilde Thunder Parade deur Swakopmund se strate en na Walvisbaai en terug gehou, waarna middagete by die Paintball Arena en musiek by SFC volg.

Dieselfde dag, wat toevallig Internasionale Dag vir Vroue-motorfietsryers is, kan die publiek na die motorfietse kom kyk, kosstalletjies besoek en musiek by die Swakopmund Sport Club geniet.