Reeks samel N$320 000 in vir Outismevereniging

Gholf
Die 2022-weergawe van die Nedbank for Autism-gholfreeks het Vrydag afgesluit, ná tien toernooie oraloor die land.

Die reeks, wat bewusmaking vir die Outismevereniging van Namibië help skep, het ’n allemintige N$296 000 ingesamel, plus ’n bykomende N$24 000 geskenk deur gaste by die amptelike prysuitdeling.

Sedert sy ontstaan in 2019 het die Nedbank for Autism-reeks meer as N$656 000 vir die Outismevereniging ingesamel.

Vanjaar se reeks het in Februarie by Omeya-gholfklub begin, met nog nege toernooie by die gholfbane van Gobabis, Oranjemund, Tsumeb, Mariental, Oshakati, Swakopmund, Hentiesbaai, Walvisbaai en Windhoek Buiteklub.

Altesaam 559 spelers het vanjaar deelgeneem, met Kiewiet Dreyer van Mariental as individuele wenner wat in die eindtoernooi nege ander kwalifiseerders met ’n telling van 44 punte geklop het.

By die prysuitdeling het Nedbank Namibia se uitvoerende hoof vir private welvaart, mnr. Biniam Ghirmatsion, gesê: “As deel van die Nedbank Outisme Gholfreeks oor die jare is een- en tweedagkursusse landwyd aangebied om begrip en aanvaarding deur onderrig, opleiding en netwerkvorming te skep, om kennis binne die groter samelewing te verbeter en deelname op alle vlakke te bevorder.

“Petra Dillmann, direkteur by die Outismevereniging van Namibië, het vertel dat deelnemers in sommige gevalle 250 kilometer of meer afgelê het om die kursusse by te woon.”

“Bydraes soos die Nedbank for Autism-gholfreeks het ’n beduidende en langdurige impak op gesinne in ons gemeenskappe.”

Dillmann het haar waardering uitgespreek aan Nedbank Namibië, DZ Golf en al die borge en skenkers.

“Ons is ongelooflik dankbaar om deur Nedbank en DZ Golf gekies te word met die steun van al die borge en gholfspelers, wat pryse geskenk het en hierdie drie jaar lange projek so ’n groot sukses gemaak het. Die reeks het die Outismevereniging van Namibië in staat gestel om na die hele land uit te reik. Dit was ’n bonus aangesien ons die gemeenskappe kon ontmoet en uitvind wat op grondvlak benodig word,” het Dillmann gesê.

Sy sê die vereniging sal in 2023 voortgaan met sy projek om hulpbronne uit herwinbare stowwe in die verskillende gemeenskappe te maak.

In sy dankbetuiging het die reeksorganiseerder, Dan Zwiebel van DZ Golf, die Nedbank Namibië-span, die medeborge, die gholfspelers en gholfklubeienaars bedank wat die reeks ’n sukses help maak het.

Medeborge van die reeks sluit in M+Z Motors, AfricaOnline, ComputerKit Namibia, Engen Namibia, Imperial, Gondwana Collection Namibia, Safintra Roofing, Taeuber & Corssen, Pupkewitz Megabuild, Zebra Trailers en Future Media.