NG kerk vier 70ste verjaarsdag

Fees hierdie Saterdag
Die NG Moedergemeente gaan lekker fees hou die naweek.
Leandrea Mouers
Die NG Moedergemeente kerk in Walvisbaai vier hul 70ste bestaansjaar, en is van plan om behoorlik fees te hou hierdie naweek.

Pieter du Toit, hoofouderling van die kerk vertel dat die kerk is op 20 Augustus geproklameer is. "Die Noord-gemeente wat nou al tot niet is, as ook die Meersig gemeente is gestig uit die NG Moedergemeente, daar was al vele predikante, en ons het eers kerk gehou in wat nou die kerksaal is. Die huidige kerk was eers later gebou."

Betreffende die fees, vertel Marelize Visser, die skriba van die kerk, dat daar gaan heerlike kosse as ook koeke te verkoop wees. "Daar gaan 'n tee tuin wees, pret vir die kinders; dit gaan sommer net 'n heerlike dag wees om saam te kuier, en saam met ons te fees vier hier op die kerkgronde."

Du Toit het ook verduidelik dat die Walvisfees nie weens die Covid-19 pandemie kon plaasvind vir die afgelope twee jaar. "Eers was dit Etosha, en toe het Hangana dit oorgeneem en weens die uitdagings in die visbedryf het Hangana nie kans gesien om dit hierdie jaar aan te bied nie. Hul het wel bevestig dat dit in 2023 weer sal plaasvind. Ons gaan dan volgende jaar weer volstoom voort om die Walvisfees aan te bied, met die fietsry- en hardloopbyeenkomste."

Afgesien van die Walvisfees wat die kerk se grootste fondinsameling geleentheid is, bied die kerk ook 'n golfdag aan, wat in Oktober sal plaasvind. "Ons gaan meer besonderhede bekend maak nader aan die tyd. Hierdie is ons twee grootste fondsinsamelings om ons fondse te versterk. Die kerkgebou moet in stand gehou word, salarisse moet betaal word en regoor die wereld is die kerke besig om te krimp, so jy moet maar enige iets probeer om fondse in te samel, om die kerk aan die gang te hou en sy voortbestaan te verseker."

Die kerk is ook in die proses om 'n nuwe dominee te beroep. Dominee Werner Redelinghuys is tans in Hentiesbaai en het die beroep aanvaar, hy sal dan ook Saterdag by die fees wees om dit te open. Hy sal die 9de Oktober amptelik begin werk.

Die NG Moedergemeente kerk nooi die Walvisbaai-gemeenskap hartlik uit na die fees as ook na die erediens Sondagoggend.