‘Lüderitz is ’n juweel’

Tanja Bause
Vier seiljagte het ’n paar dae gelede in Lüderitz se hawe anker gegooi. Hulle was onder 25 seiljagte wat in 2022 vanaf Antigua in die Karibiese eilande vertrek het om aan die Oyster World Rally deel te neem.

Dit is die derde keer dat die wedren aangebied word, asook die eerste keer dat bote in Lüderitz anker gooi.

Die Oyster World Rally strek oor 27 000 seemyle, neem sowat 16 maande om te voltooi en deelnemers besoek 25 bestemmings oraloor die wêreld. Volgens Fabian Fisahn, kaptein van die Infinity, is dit nie ’n gewone wendren nie. “Dis meer ontspanne. Almal vertrek saam en volg ’n roete, maar daar is ompaaie wat nie almal neem nie. Soos vanaf Kaapstad kan jy op Lüderitz of Walvisbaai aandoen op pad St. Helena toe. Ons vier seiljagte het besluit om te stop. Sommige van die seiljagte het al uitgeval en ander roetes gevat. Tans neem nog 19 seiljagte aan die wedren deel,” het hy gesê.

Hy het ook gesê hy en diegene wat tans in Lüderitz is, sal ’n aanbeveling aan die organiseerders van die Oyster Rally maak dat hulle Lüderitz en Namibië as ’n nuwe reisbestemming by hul roete moet voeg.

LüDERITZ

Die egpaar Dietmar en Emma Henke is deel van die bemanning op die YOLO en beskryf Lüderitz as ’n “ongeslypte diamant”. “Ons het glad nie geweet wat om te verwag nie, aangesien daar nie baie inligting oor die kuslyn beskikbaar is nie. Die inligting is rotse wat nie op kaarte aangedui word nie, baie mis, sterk winde en geen toevlug tot jy Lüderitz se hawe bereik nie.

“Ons was in die duister, maar van die oomblik wat ons in die hawe ingeseil het en die vriendelike hawe-owerheid ons aanwysings gegee het, het ons welkom gevoel. Aan land het ons net vriendelike mense teëgekom. Wat ’n lieflike deel van die wêreld,” het Emma gesê.

Volgens haar is Kolmannskuppe en die hele omgewing uniek en as hulle geweet het hoe wonderlik dit is, sou hulle baie langer gebly het. Dietmar beaam die uniekheid van die dorp, omgewing en geskiedenis. “Dit is ongelooflik interessant en werklik uniek en ek sê dit nie sommer net nie. Ek seil al vir die afgelope nege jaar oraloor die wêreld. Ek het al baie van die wêreld gesien en ’n goeie idee van hoe dit lyk. Volgens my tel Lüderitz beslis onder een van die topvyf-bestemmings wat ek in die laaste nege jaar besoek het.”

Kolmannskuppe is volgens hom soos ’n tydkapsule wat iemand toegesluit het. “Nou stap ons daar in en dit is asof alles net so bly staan het. Jy kry nie so iets op enige ander plek in die wêreld nie. Dan kan jy die ongelooflik vriendelike mense en die ontsagwekkende natuurskoon byvoeg. Wanneer ek en Emma klaar is met die wedren, sal ons huis toe gaan en ons tweede reis begin en Lüderitz is beslis op ons roete - dié keer vir ’n paar weke.”

Gottfried Böhringer, eienaar van die YOLO, het Lüderitz as die hoogtepunt van sy reis sover beskryf. “Ek het baie jare gelede ’n artikel in ’n tydskrif gelees en dit onthou. Ons seil basies hier verby en dus het ons besluit om te stop. Ons sou baie teleurgesteld gewees het as ons dit nie gedoen het nie. Hiervandaan gaan ons Walvisbaai toe en dan na St. Helena. Ons neem aan die Oyster World Rally deel om plekke te sien; plekke wat ons gewoonlik nie sou besoek het nie en ons is nie ’n oomblik spyt oor die ompad nie.”

Ook Michelle Christie wil nog dié jaar met ’n ander seiljag terugkeer. “Die plek is asemrowend en ek sal vir almal van hierdie juweel vertel. Die plek moet op elke lys en roete as ’n stilhouplek gelys word. Ek verstaan hoekom mense hiernatoe kom en dan sommer wil bly. Ek sal beslis terugkom en dan baie langer bly.”

Die Seven Seas Project

Luderitzbucht se betrokkenheid het daartoe gelei dat Lüderitz dié keer as ’n moontlike bestemming onder die kapteine se aandag gebring is. “Vanaf die Seven Seas Project wil ek net graag vir die hawe-owerheid, ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, misterie van binnelandse sake, immigrasie en veiligheid en sekuriteit, die Lüderitz Yacht Club en Andy vir al hulle moeite en samewerking bedank. Sonder julle sou dit nie so glad verloop het nie,” het Giel du Toit van die projek gesê.

[email protected]