Kom hengel saam vir ’n goeie doel

Geldinsamelingsprojek in Swakopmund
Die Stepping Stone School gaan 'n visvangfees hou om geld vir die bou van 'n spesiale onderrig- en ontwikkelingsentrum in te samel.
Nikanor Nangolo
Nikanor Nangolo • Swakopmund

’n Skool in Swakopmund wat kinders met outisme huisves, hou ’n Galjoen-derbyfees op 2 Julie om geld vir die skool se nuwe spesiale onderrig- en ontwikkelingsentrum ter waarde van N$90 miljoen in te samel.

Die bemarking- en insamelingskoördineerder vir die Stepping Stone School, Yasmin Käser, sê die beoogde sentrum sal behalwe om leerlinge te onderrig, ook ondersteuning verleen aan diegene ouer as 18 wat nie kan studeer nie of ongeskik vir werk is.

“Klem word op beroepsopleiding en hulpverlening geplaas. Ons sal ook ’n biblioteek hê wat benewens ’n studiefasiliteit, ook vir die publiek oop sal wees.”

Die pretdag sluit ’n galjoen-hengelkompetisie in wat by die strand plaasvind.

Die hengelaar wat die swaarste galjoen uittrek, gaan met N$20 000 se kontant huis toe terwyl die naaswenners onderskeidelik N$10 000 en N$2 500 inpalm.

’n Potjiekos- en braaibroodjie-kompetisie vind op die skool se oop erf oorkant Ocean View Spar plaas waar die nuwe sentrum gebou gaan word. Ongelooflike pryse is op die spel.

Om aan die hengelkompetisie deel te neem, kos N$140 per persoon, N$50 vir die braaibroodjie-kompetisie en N$80 vir individue wat aan die potjiekoskompetisie wil deelneem en N$200 vir spanne.

Käser het ondernemings aangemoedig om spanne in te skryf, nie net om tot die insameling by te dra nie, maar ook vir spanbou.

“Ons wil hê ons leerlinge moet die geleentheid kry om dieselfde pad te stap. Ons sal hulle ondersteun en hulle help om hul plek in ons gemeenskap en uiteindelik in die samelewing te vind.”

Vir diegene wat die dag se pret saam met hul gesin wil geniet, sal daar ook vermaak, eet- en drinkgoed, springkastele vir kinders, speletjies en ’n verskeidenheid stalletjies wees. ’n Gelukstrekking word ook gehou.

Toegang is N$20 vir volwassenes en N$10 vir kinders.