Kaylee Jacobs die nuwe Mej. Tiener Swakopmund

Glans en swier
Die Mej. Tiener Swakopmund-skoonheidskompetisie het Saterdag by die Swakopmund Hotel en Vermaaklikheidsentrum plaasgevind.
Nikanor Nangolo
Die 19-jarige onderwysstudent met ’n passie vir kinders en diere, het Saterdagaand met die gesogte titel en kroon van Mej. Tiener Swakopmund weggestap.

“Ek beoog om die Mej. Tiener-platform te gebruik om bewusmaking oor die belangrikheid van dieresterilisasie te skep. Ek wil ook baie graag met ander liefdadigheidsorganisasies bande smee en saamwerk,” het Kaylee Jacobs gesê.

Sy het die jeug aangemoedig om hul drome na te streef en om in hulself te glo.

Saima Neshuku is as die eerste prinses aangewys en ook as die fiksste model. Kimberley-Anne van Reenen is as die tweede prinses gekroon en was ook die publiek se gunsteling.

Twaalf deelnemers het hul kostuums met die “elemente van die aarde, vuur en water” as tema vertoon. Alexa van Wyk het die titel vir die deelnemer met die beste temadrag gewen, terwyl Sierra Bernstein benoem is as Mej. Debutante.

Alexa van Wyk het erkenning ontvang vir haar toewyding, en Kaylin de Wee het die beste geskenk voorgesit.

Kaylee Jacobs is ook as Mej. Persoonlikheid aangewys en Felesimine Andereki is as die topmodel gekies.

Leoné van Jaarsveld, Sarel Haith, Hendrik Marais, Melissa Lawrence, Elzaan de Klerk en Trixie Koch was die beoordelaars.

Volgens die stigter en uitvoerende hoof van Mej. Tiener Swakopmund, Johnathan Harris, was die geleentheid alles wat die organiseerders gehoop het dit sou wees én nog meer.

“Dit was beslis nie maklik om ’n groot produksie soos hierdie saam te stel nie, maar ons het dit gedoen.”

Harris het sy dank uitgespreek aan die borge en almal wat die geleentheid en skoonheidskoninginne ondersteun het.

- [email protected]