Die fees met gees is terug

Lekker musiek, vars oesters
Die Walvisbaai-oesterfees is weer terug na 'n twee jaar afwesigheid.
Leandrea Mouers
Die Walvisbaai Oesterfees beloof om weereens ‘n ware fees te wees met goeie musiek, vars oesters en ‘n groot verskeidenheid van stalletjies.

Die fees vind hierdie jaar plaas by Laerskool Walvisbaai, 30 Julie. Len Nel, die organiseerder van die fees vertel hul het 'n goeie mengsel van kunstenaars benader om goeie musiek aan te bied vir die feesgangers. “Ons het ook vir Ray Dylan van Suid-Afrika genooi om op te tree. Ons hou meestal by plaaslike kunstenaars want ons het hope talent hier by ons en daarom het ses plaaslike kunstenaars wat sal optree deur die dag by die fees, met Ray Dylan wat later in die dag die verhoog sal betree.”

Die plaaslike kunstenaars sluit in Dani Prinsloo, Joharetha Nel, Bella Lusse, Len Nel, Titus Cloete , Adam en Savannah sowel as Shoreline.

Luidens Nel word daar beoog om 40 stalletjie vir mense om hul produkte uit te stal beskikbaar te hê by die geleentheid. "Dit sal kunstalletjies, kos, juwele, en vele meer wees. Natuurlik gaan daar oester stalletjies ook wees en besoekers kan hulle gereed maak om te kom smul aan die lekkerny vir goedkoop en teen sowat N$7 tot N$10 vir ‘n gaar oester.”

Die Walvisbaai Oesterfees is hierdie jaar 10 jaar oud, nadat dit in 2012 begin is. “Nog elke jaar, te danke aan die publiek, is dit ‘n groot sukses. Weens die pandemie het die fees glad nie plaasgevind vir die vorige twee jaar nie. Ons het dan nou weer die jaar die kans om dit te hou en ons hoop die opkoms van die publiek gaan weer so goed wees soos die vorige jare.”

Die enige verskil hierdie jaar met die fees is waar die fees aangebied word. “Dit vind plaas by Laerskool Walvisbaai en dit is die enigste ‘iets anders’ hierdie jaar. Ons wil die fees hou soos die mense dit onthou; lekker kos stalletjies, vars oesters en goeie musiek. Ons gaan voort met wat ons opgebou het oor al die jare.”

Nel hoop die publiek sal in groot getalle die fees bywoon en kom ondersteun. “Ek dink die mense is honger vir so ‘n fees. So, kom maak ‘n draai, geniet die lekker atmosfeer, luister na goeie musiek en geniet sommer ook lekker kos. Ons glo dit sal weer ‘n fantastiese fees wees. As daar winste gemaak word, gaan ons ‘n instansie of ‘n individu identifiseer om finaniseël te help."