DBV’s hou weer landswye aannemingsveldtog

Meer as 300 troeteldiere wag vir huise
Die DBV plaas baie klem op sy aannemingsprogram, wat diere 'n tweede kans op lewe gee.
Die Dierebeskermingsverenigings (DBV’s) in Namibië bied vir die tweede opeenvolgende jaar die Clear the Shelters-veldtog aan.

Die meeste aannemingsgeleenthede vind op Saterdag 4 Junie plaas, met dié in Lüderitz en Oshana wat op 25 Junie sal volg. Clear the Shelters is ’n groot aannemingsveldtog, met baie van die DBV’s wat verlaagde aannemingsfooie bied en later as gewoonlik oop bly, sowel as verskeie aannemingsberaders beskikbaar stel om aandag aan voornemende diere-ouers te gee. By die DBV’s oraloor Namibië is daar tans meer as 300 troeteldiere wat vir huise wag. Hierdie diere is meestal katte en honde, en in Windhoek is daar ook hase en marmotte wat nuwe huise soek. Hierdie diere verdien almal liefde, en die DBV hoop die Clear the Shelters-aannemingsveldtog sal meer lig werp op die belangrikheid van aannemings en die verskil en impak wat dit het op die lewens van die diere wat tans in die sorg van die DBV is.

Hoekom ’n troeteldier aaneem?

Die DBV plaas baie klem op sy aannemingsprogram, wat diere ’n tweede kans op lewe gee. Die DBV glo vir die goeie doel om hierdie diere ’n geleentheid te gee om ’n liefdevolle huis te vind, is niks te veel moeite nie. “Ons lê baie klem daarop dat mense hul regte pasmaat ontmoet. Ons het almal verskillende voorkeure en ons wil aannemers help om die regte keuse vir hulle en hul gesin te maak, en terselfdertyd ook ’n goeie pasmaat vir die troeteldier verseker,” sê die DBV se nasionale direkteur, me. Hanna Rhodin.

Net verlede jaar het DBV’s landswyd ’n veilige hawe vir meer as 5 000 nuwe diere gebied, waarvan meer as 4 000 net in Windhoek was. Terwyl byna 500 van daardie diere gelukkig genoeg was om met hul eienaars herenig te word, is net 900 diere in die jaar aangeneem; ’n afname van 19% teenoor die vorige jaar se aannemingsgetal.

Rhodin sê die keuse om ’n dier aan te neem, maak ’n direkte verskil in die lewe van daardie dier, en voormalige skuilingskatte en -honde maak van die liefdevolste gesinstroeteldiere. “Dit maak nie net die wêreld se verskil vir daardie een dier nie, maar die aannemer kan verseker wees dat die dier ten minste een keer geënt is, gesteriliseer is en behandelings teen parasiete ontvang het.”

Ken jou troeteldier

Die aannemingskonsultante ken die diere goed en kan baie inligting oor hul persoonlikheid, voor- en afkeure en temperament gee en kan potensiële aannemers ’n beter idee gee oor hoe die dier by hul gesin en hul leefstyl kan inpas.

[email protected]