Bekende mark lewer verrassing op

Gesinspret
Michelline Nawatises
SwakopmundDie Swakopmund Night Market wat verlede naweek by Tiger Reef gehou is, het ’n verrassing opgelewer.

Die mark het ’n samewerkingsooreenkoms met Namib Chilli aangegaan om ’n skoonheidskompetisie en fees aan te bied.

“Ons is ontvanklik vir samewerking. Dit is hoekom ons ingestem het om die eerste Chilli (brandrissie)-fees ooit aan die kus te reël met kompetisies en pryse op die spel,” het die mark se organiseerder, Danien van Niekerk, gesê.

Tien brandrissies het deel van die fees uitgemaak, insluitend nege verskillende soorte van Suid-Afrika.

Die brandgevoel het gewissel tussen “effens” tot “kokend”.

Die deelnemers moes brandrissies binne ’n kwessie van sekondes eet sonder om vloeistof te drink.

Yolande Fourie het die kompetisie gewen en ’n kontantprys van N$1 000 opgeraap.

“Ek het dit vreeslik geniet. My gunstelingbrandrissie is die geel ‘ghost pepper’. Die brandsmaak van dié rissie is glo 125 keer erger as dié van ’n jalapeño.”

Sonata-Minuette de Klerk, Angelique Bergh, Bea Viljoen, Latoya Naris en Anneke van Wyk van onderskeidelik Windhoek, Swakopmund en Walvisbaai het aan die Mej. Chilli-skoonheidskompetisie deelgeneem, met Mej. Wêreld Namibië, Annerie Maré, as lid van die beoordelaarspaneel.

Sonata-Minuette is as Mej. Chilli gekroon. Sy het gesê dis haar eerste probeerslag om aan ’n skoonheidskompetisie deel te neem, maar is nou vol selfvertroue en gaan beslis vir meer kompetisies inskryf.

Bea is as eerste prinses gekroon en Angelique as tweede prinses.

Die wenners het kontant, geskenkpakkies, juweliersware en geskenkbewyse ontvang.

VenuesDie Swakopmund Night Market word tans by twee venues gehou: Die Swakopmund Hotel & Entertainment Centre en by Tiger Reef.

“Ons wissel hierdie jaar af tussen dié twee liggings, met drie markte by Tiger Reef en die res by die hotel. Die idee is om ’n geleentheid vir plaaslike besighede te skep om hul produkte te verkoop. Hierdie keer het 61 stalletjies items soos kunsvlyt, klere en kos verkoop. Kinderaktiwiteite is ook aangebied,” het Van Niekerk gesê.

Momo, 8 Octaves, Pepi, The Yesterday, The Elementz, en Evolve Fire and Entertainment het die vermaak verskaf.