Waterstres veroorsaak glo feëtjiesirkels

Wetenskaplikes ontrafel tergende geheim
Self-organisering in plantegroei kom ook in verskeie ander droë gebiede in die wêreld voor, waar plante wat wil oorleef, geen ander keuse het as om in geometriese formasies te groei nie.
Elvira Hattingh
Wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit van Göttingen in Duitsland meen hulle het eindelik die geheim van Namibië se feëtjiesirkels ontrafel: Dit word deur waterstres veroorsaak en nié deur termiete nie.

Dr. Stephan Getzin, wat aan stuur van die studie staan, het aan Republikein verduidelik die plante organiseer hulself eintlik – ‘n eenvoudige antwoord op ‘n tergende geheim van meer as ‘n halwe eeu.

“Ons kan nou bewys, met behulp van sensors wat die vog in die grond deurlopend monitor, dat die permanente gras rondom die sirkels die water horisontaal na hul wortels toe aantrek . . .

“Op dié manier ontneem die grasse die feëtjiesirkels van bykans alle grondvog – wat die gras binne die sirkel doodmaak en keer dat enige ander plante suksesvol binne die sirkels kan vestig.

“Terselfdertyd het ons geen tekens van termiete gevind wat aan die plante eet nie. Ons het die gras kort ná die reën uitgegrawe, wat bewys het dat die gras nie vrek as gevolg van termiete nie, maar eerder omdat dit verlep het,” het Getzin verduidelik.

Getzin sê hy werk reeds vir meer as 20 jaar om die geheim van die feëtjiesirkels uit te pluis.

“Onlangs het die uitsonderlike goeie reënseisoene van 2021 en 2022 in die Namib grootliks tot voordeel van ons navorsing gestrek. Ons kon aanskou hoe kaal grond met ‘n laag groen gras bedek word,” het hy gesê.

Die wetenskaplikes het egter gesien hoe die gras wat binne die feëtjiesirkels ontkiem het, onmiddellik ná die reën begin vrek het – en dat dit nie deur termiete veroorsaak word nie.

Die resultate van die studie is op 20 Oktober in die wetenskaplike joernaal Perspectives in Plant Ecology, Evolution and Systematics gepubliseer.

“Deur die vorming van sterk patrone op landskappe of die eweredig gespasieërde feëtjiesirkels, tree die gras op as ingenieurs van die ekostelsel. Hulle geniet ‘n direkte voordeel uit die gapings in die plantegroei deur dit as ‘n waterbron te benut.

“Ons weet dat self-organisering in plantegroei in verskeie ander droë gebiede in die wêreld voorkom – en in al hierdie gevalle het die plante geen ander keuse om te oorleef, buiten om in sulke geometriese formasies te groei nie,” het Getzin verduidelik.

[email protected]