Rare fonds naby Lüderitz

Tanja Bause
In 'n baie seldsame verskynsel het twee bekwalvisse in Shearwaterbaai naby Lüderitz uitgespoel. Volgens me. Jessica Kemper het sy soos oudergewoonte op 8 Julie met haar honde gaan stap en die eerste en groot gestrande walvis gevind. Tydens haar staptog die volgende dag het toeriste haar aandag gevestig op 'n kleiner bekwalvis wat sowat 350 meter van die vorige een uitgespoel het. Volgens Kemper het 'n baie jong jong Gray’s-bekwalvis in Januarie 2020 in Guanobaai uitgespoel, maar gebeur dit selde omdat dié spesie diepseewalvisse is.

Beide die karkasse wat in Shearwaterbaai gevind is, was in ’n gevorderde stadium van ontbinding. Die algemene voorkoms volgens die verduideliking van Jean-Paul Roux op die Facebookblad Lüderitz Marine Research, dui daarop dat die walvisse aan die genus Mesoplodon ibehoort.

“Dit is ‘n baie geheimsinnige groep seesoogdiere wat uiters diep duikers is en ‘n gespesialiseerde dieet het wat uit diepwater-inkvisse bestaan. In hierdie genus het verskeie spesies mannetjies met net een of twee pare tande wat uit die onderkaak groei. Dit word waarskynlik as slagtande gebruik vir kompetisie en gevegte tussen die mannetjies en dus nie vir voeding nie. Wyfies se tande 'breek' nie deur nie en bly onontwikkel in die kakebeen. Die aantal, posisie en vorm van die tande is nodig vir die identifikasie van die spesie," sê Roux.

Die groot walvis is ’n wyfie van 5,4 meter lank, terwyl die kleiner een 3,1 meter in lengte en waarskynlik 'n baie jong walvis is. Die moontlikheid is dat dit 'n wyfie en haar kalf is.

“Geen tande is by enige van die diere teenwoordig nie en die gevorderde toestand van ontbinding maak die spesie-identifikasie op hierdie stadium onmoontlik. Uit die grootte en die algemene liggaamsvorm is dit moontlik dat dit Layard se bekwalvisse is. Bevestiging sal slegs moontlik wees wanneer die volwasse kakebeen behoorlik ondersoek kan word en die vorm van die vestigiale tande sowel as die vorm van die skedel vasgestel kan word.”

“Die proses om inligting in so ‘n geval in te samel is uiters onaangenaam, dit stink en is baie harde werk. As gevolg van die gevorderde toestand van verval kon geen behoorlike nekropsie uitgevoer word nie en die oorsaak van die walvisse se dood bly in dié geval ‘n onbeantwoorde vraag..”

Om die nodige identifikasies te kan doen, moet albei die walvisse se koppe afgesny en geberg word. Die kop van die kleiner bekwalvis is reeds geberg en die naweek het die span van Roux, Kemper, Diina Mwaala en Hileni Malumbu (van die ministerie van visserye en marine hulpbronne se marine soogdierafdeling) die kop van die groot bekwalvis geberg.

“Dit gaan ’n baie hartseer, stinkerige maar tog opwindende taak wees,” het Kemper gesê. - [email protected]