Namibië steun wettige ivoorhandel

Ellanie Smit
Namibië is een van vyf Afrikalande wat verlede maand ’n deklarasie onderteken het om die verbod op ivoorhandel op te hef.

Dít is uit 16 Afrikalande wat genooi is om die driedaagse Afrika-olifantkonferensie in Zimbabwe by te woon.

Botswana, Zambië, Tanzanië, Namibië en die gasheerland het almal die Hwange-verklaring onderteken, ’n verdrag wat aandring op die wettige handel in ivoor.

Hierdie Suider-Afrikaanse lande gaan hulle beywer vir die aanvaarding van die verdrag by die 19de beraad van die konvensie oor die handel in bedreigde spesies (Cites), wat in November in Panama plaasvind.

Dié lande het almal van 23 tot 26 Mei die konferensie in die Hwange Nasionale Park bygewoon, waar die ooreenkoms bereik is.

Me. Heather Sibungo, adjunkminister van die omgewing, bosbou en toerisme, het die Namibiese afvaardiging gelei.

Die Hwange-verklaring eis dat Cites nie inmeng by binnelandse handel, state se soewereiniteit of hul reg om plaaslike wild te monetiseer nie.

Dit het besluite gekritiseer wat beïnvloed is deur “nasies wat nie geraak word nie” en dierewelsynsorganisasies, en het ’n beroep gedoen op die hersiening van Cites-lidmaatskap in die lig van sy “voortgesette onwetenskaplike en ongeregverdigde besluitnemingsprosesse”.

Beter ooreenkoms

Luidens die verklaring wil die ondertekenaars ’n “nuwe en beter ooreenkoms vir olifantbewaring vorm”.

Verder is hulle glo oortuig daarvan dat die bewaring en volhoubare gebruik van wild afhanklik is van die behoorlike bestuur en benutting daarvan, insluitend dat wette wat dié gebruik beheer, afgedwing word.

Die ondertekenaars is verder vasbeslote om alle nodige stappe te volg om die status van die Afrika-olifant te beskerm en onwettige handel te voorkom, en is bewus van die verskeie internasionale beperkings wat deur internasionale organisasies en lande op volhoubare handel in wild en wildprodukte ingestel word.

“Ons doen ’n beroep op alle Afrikalande om aan te sluit en ’n nuwe en beter ooreenkoms te bewerkstellig vir olifantbewaring, toerisme en landelike gemeenskappe in sleutelgebiede in Afrika deur hierdie verklaring te ondersteun en hulle daartoe te verbind.”

Ons susterkoerant Namibian Sun het verlede jaar berig Namibië het sowat N$232 miljoen per jaar verloor weens handelsbeperkings op ivoor.

Volgens die nasionale olifantbewaring- en bestuursplan is ramings van die koste van verliese wat deur olifante in Namibië veroorsaak is, asook die koste om infrastruktuur te installeer om dié verliese te voorkom, binne die bestek van die inkomste wat net uit etiese ivoorhandel verhaal kan word.

“Die volhoubare bewaring en bestuur van olifante in Namibië en die doeltreffende versagting van mens-olifant-konflik word as losprys gehou oor onbewese vrese – wat deur diereregteaktiviste aangevuur word – dat die gereguleerde, wettige handel in ivoor skade aan ander olifantbevolkings sal veroorsaak,” lui die verklaring.

Intussen voer die verslag, Oorsig van Olifantbewaring en Bestuur in Namibië, aan hoewel Namibië se bewaringsprestasies rakende olifante en ander spesies wyd bekend is, het die land nie altyd internasionale steun vir sy olifantbewaringsprogramme – spesifiek van Cites – ontvang nie.

Meer onlangs het die land feitlik geen ondersteuning ontvang nie, maar baie vyandigheid, lui dit verder.

Volgens die verslag is die hoeveelheid ivoor in die Namibiese kas nie in die publieke domein nie, maar ’n ton ivoor is sowat N$14,5 miljoen werd.

Met ’n bevolking van 20 000 olifante en ’n natuurlike sterftesyfer van 4% per jaar – wat ’n gemiddelde slagtandgewig van 10 kg oplewer – is die jaarlikse ivooropbrengs van net 800 olifante wat aan natuurlike oorsake sterf 16 ton ivoor, wat N$232 miljoen werd is.

Olifante is oral in die wêreld op Cites se geen handel-lys ingevolge Aanhangsel I, behalwe in Botswana, Namibië, Zimbabwe en Suid-Afrika, wat spesiale toestemming ontvang het om onder Aanhangsel II gelys te word, wat beperkte handel in ’n eenmalige transaksie in 2008 toelaat.

[email protected]