Agt planete om in Desember te sien

Mars môreaand op sy helderste in twee jaar
Terwyl altesaam agt planete vandeesmaand in die naghemel gesien kan word, bereik die Geminides-meteorreën sy jaarlikse piek op 14 en 15 Desember.
Elvira Hattingh
Gegewe dat die naghemel skoon en sonder stof sal wees, is dit moontlik om al agt planete vanaf môre tot aan die einde van die jaar te sien, met veral Jupiter en Mars wat uitsonderlik helder sal skyn.

Die Namibië Wetenskaplike Vereniging sê in hul jongste nuusbrief dat Mercurius en Venus die moeilikste sal wees om te sien en beveel aan dat daar op die 23 Desember na hulle gesoek word – net bo die horison, kort ná sononder.

Volgens ’n kaart deur die vereniging van Windhoek se naghemel op 15 Desember, sal Mars, Jupiter, Saturnus en Mercurius op dié aand gesien kan word.

Daarbenewens bereik Mars môreaand opposisie, wat beteken die son en die rooi planeet sal aan weerskante van die aarde wees.

Dit is die “naaste” wat Mars in meer as twee jaar aan die aarde sal kom, alhoewel dit steeds meer as 62 miljoen kilometer van die aarde af sal wees.

HELDER

Mars vertoon tans as ’n helder oranje kol in die hemelruim en selfs sy donkerder kolle sal met behulp van ’n medium sterkte teleskoop sigbaar wees.

Die laaste keer dat Mars só helder was, was in Oktober 2020.

Dit is ook volmaan môreaand.

Jupiter is een van die maklikste planete om raak te sien en saam met Mars, helderder as bykans al die ander sterre in die hemelruim.

Jupiter se naaste vier mane en selfs die dowwe strepe op sy oppervlak kan gewoonlik met ’n kleiner teleskoop en selfs ’n verkyker gesien word.

Saturnus en Uranus gaan die vernuf bietjie meer toets om te vind, met Saturnus wat voor middernag onder gaan en Uranus wat nog voor sononder opkom en tot net ná 04:00 sal vertoef.

Die beste tyd om Saturnus te sien is sodra dit donker genoeg is. Venus, wat gewoonlik helder in ons naghemel skyn, is môreaand sku en gaan reeds 20:17 onder en kom eers weer 06:47 op.

Die Geminides-meteorreën bereik ook sy jaarlikse piek op 14 en 15 Desember en word wyd as een van die beste meteorreëns beskou. Bykomende bronne: timeanddate.com, earthsky.org