Tweede Anixas-kragstasie vir hawedorp

Om beter kragvoorsiening te verseker
Nampower gaan eersdaags begin met die bou van 'n 50 megawatt-kragaanleg by Walvisbaai.
Nikanor Nangolo
’n Senior ingenieur van NamPower, mnr. Kandara Mukusuka, het by die Vereniging van Elektrisiteitsverspreiders in Namibië (AEDU) se 11de Tegniese Konferensie wat op Walvisbaai plaasgevind het, aangekondig dié kragvoorsiener gaan met die konstruksie van ’n 50 megawatt-kragaanleg teen ’n koste van N$1,5 miljard by Walvisbaai begin.

Die konstruksie van die nuwe Anixas II-kragstasie sal na verwagting nog hierdie maand begin en behoort vroeg in 2024 operasioneel te wees. Luidens Mukusuka sal die nuwe kragstasie langs NamPower se bestaande Anixas-kragaanleg in die hawedorp gebou word en sal gebruik maak van dubbelbrandstof-tegnologie.

Die nuwe kragstasie met ’n leeftyd van 25 jaar, gaan ontwikkel word om plaaslike piekopwekking te verhoog asook om steun te verskaf om die netwerk te stabiliseer weens die wisselvallige aard van hernubare energiebronne. “Anixas II sal gebruik word wanneer die land ’n kragtekort ervaar en sal die kragvoorsiener in staat stel om kragonderbrekings te verminder,” het Mukusuka gesê.

NamPower, wat elektrisiteit op groot maat aan plaaslike elektrisiteitsverspreiders, myne en plaaslike owerhede verskaf, het ook veskeie ander groot projekte wat landswyd beplan word.