Tafel gedek vir groenwaterstofprojek

Hyphen, regering sit binnekort hand op papier
Die regering en Hyphen behoort binnekort die implementeringsoorkoms vir die groenwaterstofprojek te onderteken.
Ronelle Rademeyer
Die tafel is gedek vir die ondertekening van die ooreenkoms waarmee Namibië een van die topdrie lande in die wêreld vir die vervaardiging van groenwaterstof sal word. Bouwerk sal in Januarie 2025 begin.

Hyphen Hydrogen Energy (Hyphen), die maatskappy wat Namibië se groenwaterstofprojek van US$10 miljard (bykans N$170 miljard) sallei, sê hy maak positiewe vordering in sy samesprekings met die Namibiese regering en die ondertekening van die implementeringsooreenkoms sal voor die einde van die jaar geskied.

“Materiële vordering is gemaak sedert Hyphen se laaste aankondiging by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Mei vanjaar, toe hy 'n ambisieuse tydlyn uiteengesit het om hierdie transformerende projek te verwesenlik,” het die maatskappy gistermiddag in ’n verklaring gesê.

Die kabinet het op 12 Junie die samestelling en aanstelling van die regeringsonderhandelingspan goedgekeur wat die implementeringsooreenkoms sal finaliseer, asook die voorgestelde tydlyn vir die ondertekening daarvan.

“Die ondertekening van die implementeringsooreenkoms sal die aanvang van die ingenieurs- en ontwerpfase in die ontwikkeling van hierdie ambisieuse groenwaterstofprojek afskop,” sê Hyphen.

Die maatskappy het onderskeidelik Boston Consulting Group en Lazard as sy internasionale strategiese en finansiële adviseurs aan boord gebring, wat sy bestaande regsadviesspan, bestaande uit Slaughter en May en ENS Africa, aanvul. Hyphen en sy breër adviesspan werk nou saam met die regering en sy adviseurs om te verseker dat Namibië se potensiaal as een van die topdrie plekke in die wêreld vir groenwaterstofproduksie, verwesenlik word.

Die maatskappy sê hy het vyf Namibiërs aangestel, insluitend Toni Beukes as hoof van die omgewing, volhoubaarheid en bestuur, om te verseker dat dit 'n billike projek tot voordeel van die mense van Namibië is.

Die maatskappy het kantoorruimte in Nedbank se nuutvoltooide Courtside-kantoorontwikkeling in Windhoekse se middestad gehuur om sy groeiende span te huisves en trek vroeg in Oktober in.

Wanneer die projek ten volle geïmplementeer is, sal Hyphen 350 000 ton groenwaterstof per jaar produseer wat vir streek- en wêreldmarkte 5-6 GW se hernubare opwekkingskapasiteit en 3 GW se elektroliseerderkapasiteit sal skep.

Hyphen en die regering beoog om in Januarie 2025 met die konstruksie te begin, met die ingebruikneming van die eerste fase teen die einde van 2026.

Die maatskappy se uitvoerende hoof, Marco Raffinetti, sê Hyphen is baie bly oor die toewyding en vinnige pas van vordering deur die Namibiese regering in die aanloop na die ondertekening van die implementeringsooreenkoms.

“Dit bewys die regering se geloof in Hyphen se visie en vermoë om hierdie ambisieuse en transformerende projek uit te voer. Ons projek sal Namibië se groenwaterstofbedryf stewig op die wêreldenergie- en ontkolingskaart plaas.” –r[email protected]