Omburu voeg 20 MW by nasionale netwerk

Verskaffing van hernubare energie
NamPower wy volgende week sy N$500 miljoen-sonkragaanleg naby ­Omaruru in.
Adam Hartman
NamPower gaan volgende Vrydag sy N$500 miljoen 20 MW Omburu-sonkragaanleg naby Omaruru amptelik inwy.

Hierdie belegging sal Namibië se voortdurende pogings aanvul om plaaslike opwekking te verhoog, spesifiek deur hernubare energie.

Die inwyding van die nuwe aanleg kom sowat twee maande nadat konstruksie by NamPower-Anirep se N$300 miljoen 20 MW Khan-sonkragaanleg naby Usakos begin het.

NamPower se Omburu-aanleg sal langs die 4,5 MW-sonkragpark geleë wees wat deur die Franse belegger InnoSun besit word en wat sowat 5 km suid van Omaruru is.

HopSol Solar Plant Namibia het ’n sentrale rol in die bou van die aanleg gespeel.

Die InnoSun-aanleg, wat in 2015 ingewy is, is Namibië se eerste hernubare energieprojek deur ’n onafhanklike kragprodusent.

NamPower voer sowat 55% van die krag wat die land benodig in, maar het oor die jare Namibië se plaaslike opwekkingskapasiteit vergroot deur sy bestaande opwekkingsaanlegte op te knap en op te gradeer, asook om saam met die private sektor te werk om hernubare energiekapasiteit aan die netwerk te lewer.

Tom Alweendo, die minister van myne en energie, het onlangs gesê meer as die helfte van die Namibiese bevolking het toegang tot elektrisiteit.

“Dan neem die land se energieverbruik ook teen ’n koers van 3,5% jaarliks toe, met ’n groot persentasie van Namibië se krag wat vanaf Suid-Afrika ingevoer word,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg hoewel Namibië bekend vir sy natuurlike hulpbronne soos sonlig is, sal die land nog hard moet werk om dié bronne se volle potensiaal te verwesenlik.

Ander projekte wat deel is van NamPower se geïntegreerde strategie en sakeplan, is die 40 MW Rosh Pinah-windkragprojek; die 40 MW Otjikoto-biomassakragprojek naby Tsumeb; en die 50 MW Anixas II-kragstasie naby Walvisbaai.

Al hierdie projekte is in verskillende stadiums van ontwikkeling.