Groenwaterstof: Aanleg se ontwikkeling goed op dreef

Energieopwekking onder die loep
'n Maatskappy wat beoog om 'n groen waterstofkragaanleg op Swakopmund te bou, het bevestig dat 'n omvangsverslag daarvoor by die ministerie van die omgewing ingedien is.
HDF Energy, wat in die proses is om ’n groenwaterstofaanleg op Swakopmund te ontwikkel, het bevestig hulle het ’n omvangsverslag by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ingedien.

Die verslag gee die versekering aan die ministerie dat die voorgestelde prosesse om aan die omgewingstandaarde te voldoen tydens die implementering van die projek, “gesond, prakties en sinvol is”.

“Hierdie belangrike stap in die vergunningsproses bevestig ’n gunstige grondslag vir die projek. Gevolglik is HDF Energy ’n stap nader aan die oprigting van die eerste groenwaterstofaanleg in Afrika – een van die eerstes wat HDF Energy wêreldwyd ontplooi,” het HDF Energy se direkteur vir Suider-Afrika, Nicolas Lecomte, gesê.

Volgens Lecomte is die stap een van vele wat die nakoming van Namibiese wette vereis en tot voordeel van Namibiërs is.

Hy bestempel dit ook as ’n hupstoot vir Namibië se vermoë om ’n baanbreker op dié gebied te word wat ander sal volg.

“Met die onlangse aanvaarding van die omvangsverslag deur die ministerie van die omgewing en toerisme, kan HDF Energy Namibia nou voortgaan met die finalisering van die omgewings- en maatskaplike impakverslag.”

Die Renewstable® Swakopmund-projek wat na verwagting in 2024 kommersieel operasioneel sal wees, word gebou teen ’n geraamde koste van N$3,1 miljard.

Dit sal na verwagting toegang tot betroubare en stabiele elektrisiteit verbeter, asook elektrisiteit met geen koolstofdioksied-vrystelling, wat 24 uur per dag, sewe dae per week aan 140 000 huishoudings dwarsdeur die jaar gelewer sal word.

Die projek sal na verwagting tydens sy konstruksiefase 300 direkte werksgeleenthede skep en 45 tydens sy operasionele fase, met meer werksgeleenthede wat indirek oor die waardeketting geskep word.

HDF Energy is ’n Franse onafhanklike kragvervaardiger wat in massaberging van elektrisiteit en ononderbroke hernubare kragopwekking spesialiseer.