Xinfeng sê Duare Daman litium lê nog

Litium uitvoere glo opgeskort
Xinfeng se litium bedrywighede dek 'n myn en tien aparte myn-eise in Erongo
Augetto Graig
Chinese litium mynbouers Xinfeng Investments sê geen van die litium erts, wat daagliks in die Okambahe reserwe gebied van die Daure Daman tradisionele owerheid in die Erongo streek na aan Omaruru ontgin en opgegaar word, is uitgevoer nie. “Ons wil graag beklemtoon dat daar tans geen minerale uit die land verskeep word nie. Die minerale van die myn-eise is na 'n stasie vervoer vir ‘toetse, inspeksie en gewigmeting’ om die hoeveelheid en waarde voor uitvoer te bepaal,” skryf die myn se bestuur op navraag vanaf Republikein.

Daar is glo ’n verskil tussen die mynbou op Daure Daman se myn-eise en die ander Xinfeng litium myn wat ook in die selfde streek geleë is, volgens Xinfeng regsverteenwoordigers Nambili Mhata Legal Practitioners. Mhata sê litium erts uitvoere is tans opgeskort terwyl die ministerie van myne en energie betrokke kwessies opklaar.

Laas jaar was Xinfeng vragmotors gedurig op pad na Walvisbaai van waar altesaam 110 000 metrieke ton litiumerts China toe toegelaat was. Uitvoere sou tot 29 November toegelaat word. Sedert die begin van hierdie jaar wag Republikein op beloftes van antwoorde vanaf die ministerie oor onafhanklike toetsuitslae om Xinfeng se aandrang dat die erts maar 1% litium bevat te ondersteun. Die ministerie is ook gevra of ander minerale in die erts is. en of daarvoor betaal is, tevergeefs. Die mynbou ministerie het ook nie ’n woord oor die totale uitvoere tot dus ver geopper nie.

Xinfeng Investments is 'n Namibiese maatskappy en 'n filiaal van Tangshan Xinfeng Lithium Industry in China. “Ons missie is om 'n volhoubare mynbou- en energiesektor in Namibië te ontwikkel, terwyl dit 'n positiewe impak op die gemeenskappe waarin ons bedrywig is, agter laat,” skryf die mynbouers.

Verder stel Xinfeng dit op rekord dat alle nodige dokumentasie vir hul mynbou aktiwiteit in orde is, met afdrukke van hul myn-eis sertifikate, omgewingsklaring sertifikaat en toestemmingsbrief vanaf die Daure Daman owerheid aangeheg as bewyse.

Tien betrokke myn-eise is bekom deur ’n gesamentlike onderneming saam met die owerheid en benoem Long Fire Investments te stig, brei Xinfeng uit. Die ministerie van myne en energie het amptelik op 23 September 2022 vir hoofman Zacharius Seibeb ingelig dat die myn-eise op sy grond uitgemerk is. Xinfeng sê hulle het reeds op 5 April 2022 hul ooreenkoms met Seibeb en die owerheid onderteken. Die omgewingsklaring is op 16 September 2022 toegeken, en is geldig tot die selfde datum in 2025 terwyl die myn-eise tot 21 September 2025 geldig is.

Deur Long Fire Investments wil Xinfeng nog ’n waarde toevoeg aanleg vir die litium bou, wat volgens die Chinese mynbouers deur Namibiërs bestuur sal word, met hulp vanaf Xinfeng se kenners. Vaardigheid en kennis word deur die onderneming oorgedra, wat werksgeleenthede skep en bydra tot volhoubare ontwikkeling in Namibië, sê Xinfeng. Die Daure Daman baat ook uit ’n huurooreenkoms in ag van die oppervlak grondregte van krag is, sê Xinfeng.

Aanvanklik bou Xinfeng tussen vyf en tien kamers en omheining, en voorsien meubels en inligting kommunikasie toerusting vir die myn-eise. Long Fire se welsynskomitee is ook gereed om te luiste na die gemeenskap se ander uitdagings, om ondersteuning en oplossings waar moontlik te bied, sê Xinfeng.