Namdia kou klippe met diamantverkope

Regering kan verliese verwag
Die staat se diamantbemarkings- en verkoopsmaatskappy het in September laas diamante verkoop terwyl De Beers US$20 miljoen in 'n bemarkingsveldtog belê.
Augetto Graig
Namib Desert Diamonds (Namdia), die regering se diamantbemarkings- en verkoopsmaatskappy, het laas in September vanjaar diamante aan sy kliënte verkoop.

Die maatskappy het ook September laas sy 15%-aandeel van Namibia Diamond Trading Company (NDTC) se diamante – waarop hy geregtig is – gekoop. “Namdia is nie immuum teen die uitdagings wat die diamantbedryf tans in die gesig staar nie, en ervaar ook die deurlopende afname in veilingpryse gedurende die grootste deel van 2023.

“Die tendens is nie tot Namdia beperk nie. Soortgelyke groot handelsondernemings worstel ook met teenstrydige markomstandighede, wat hulle dwing om óf teen afslagpryse te verkoop, óf verkope heeltemal op te skort,” brei Namdia se uitvoerende markontwikkeling, verkope en handelsmerkbeampte, Lelly Usiku, uit.

Sy sê die pryse van gepoleerde diamante is besig om te daal terwyl die pryse vir ruwe diamante hoog bly, wat ’n gaping in die pryse veroorsaak. Dit terwyl gepoleerde diamante se voorraad voortdurend hoog bly. “Diamante wat in ’n laboratorium gekweek word, is tans meer prominent en maak inbreuk op die verloofringsegment,” volgens Usiku.

Sy maak verwysing na die ekonomiese omstandighede in die Verenigde State van Amerika (VSA) en die insinking van Chinese uitgawes en sê die Hongkong-skou het sentiment in die internasionale mark benadeel met amper geen verkope of beperkte verkope teen reuse-afslag.

“Dit word vererger deur Indië se vrywillige invoerverbod vanaf 15 Oktober tot 15 Desember vanjaar. Die besluit is geneem om die mark se balans tussen voorsiening en aanvraag te stabiliseer. Indië is ’n belangrike rolspeler in die bedryf aangesien dit ongeveer 80% van globale ruwe diamante sny en poleer,” sê sy.

“In terme van die verminderde pryse moes Namdia die verkoop van sy 15%-aanspraak – wat in September gekoop is – terugtrek, wat tans in (ons) voorraad is. Ons bly waaksaam om markomstandighede te monitor en beplan om verkope te hervat sodra pryse herstel het,” voeg sy by.

“Gebaseer op ons huidige finansiële en operasionele ontleding, is ons vol vertroue dat Namdia kan en sal voortgaan om as ’n lopende saak te funksioneer. Namdia het nie die aandeelhouers vir enige reddingsboei genader nie,” sê sy.

Namdeb is saam met Debmarine Namibia en die Namibia Diamond Trading Company (NDTC) lede van die groep maatskappye wat in Namibië deur ʼn gelyke vennootskap tussen internasionale diamantreus De Beers en die regering gestig is. Die De Beers-groep se mediakantoor het op navraag gereageer dat die groep sy kliënte, bekend in die bedryf as “siteholders”, met die buigsaamheid van aankope vir die herbalansering van groothandel-aanbod en -vraag ondersteun, “wat weer kleinhandelaars sal aanmoedig om voorraad aan te koop”.

“Met betrekking tot aanvraag belê ons ’n bykomende US$20 miljoen om die vraag na natuurlike diamante aan te dryf,” het Daniel Kali se kantoor gesê.

De Beers erken dat diamant-inkomste betekenisvol tot Namibië se ekonomie bydra en dat die afname in aanvraag ’n impak op die regering se inkomste sal hê. Die groep belê in ’n reeks ondersteunende aksies om vervaardigingslande, soos Namibië te help, insluitend ’n bemarkingsveldtog van US$20 miljoen, veral in China en Amerika oor die jaareinde-vakansieseisoen.

Intussen duur bedrywighede by Namdeb en Debmarine Namibia voort, en sal dit aanhou, volgens die groep. Klem word geplaas om uitgawes te verminder en op operasionele uitnemendheid. “Die regering – as aandeelhouer van Namdeb en Debmarine Namibia – was aktief betrokke in die ontwikkeling van ’n doeltreffende reaksieplan en ondersteun die proaktiewe stappe wat De Beers neem om verbeterde vraagtoestande in die bedryf te ondersteun,” voeg De Beers by.

[email protected]